Die toneel waar die botsing reg van voor Vrydagaand 5 Maart in Victoria Link-weg, Somerset-Wes, gebeur het.Die ongeluk het vir 18-jarige Justin van Wyk van Pretoria geëis. Dit net nadat hy in 2020 aan Hoërskool Centurion Woerie-kampus gematrikuleer het.


’n Bedroefde Pretoriase ma wat haar tienerseun byna ’n jaar gelede in ’n noodlottige botsing verloor het, beweer dat ’n gebrek aan kommunikasie en antwoorde van die polisie afsluiting byna onmoontlik maak.

Christa van Wyk se 18-jarige seun, Justin, is Vrydag 5 Maart verlede jaar in ’n botsing in Somerset-Wes dood.

DistriksPos het voorheen berig dat die botsing kort ná 23:00 in Victoria Link-weg (die pad wat De Beerslaan en Victoria-straat koppel) en ten aanskoue van ’n plaaslike inwoner en lid van die Victoria Park-buurtwag, George Kruger, gebeur het (“Laatnag-botsing eis Gautenger,” 11 Maart 2021).

Kruger het die omgewing ten tyde van die voorval saam met mede-buurtwaglede gepatrolleer. Die span het patrolliewerk in Victoriapark en omliggende gebiede, waaronder Lourensiapark, Paardevlei, die gedeelte naby die Helderberg-sentrum by Somerset Mall, en Helderzicht gedoen. Met die terugkomslag het hy twee jong mans in ’n Honda Ballade gesien wat van Lourensiapark af in Victoria Link-weg links gedraai het. Die botsing het oomblikke daarna gevolg. Die Honda en ’n Volkswagen Polo, wat in die rigting van Somerset Mall beweeg en ’n Chevrolet Spark verbygesteek het, het reg van voor teen mekaar gebots.

Twee insittendes van die Chevrolet het glo sweepslagbeserings opgedoen. Die bestuurder en voorste passasier van die Polo was ongedeerd, maar Justin, wat agter die bestuurder in dié voertuig gesit het, is dood.

Die Honda se twee insittendes, wat plaaslike inwoners is, is ná die voorval met beserings na die hospitaal vervoer.

Sersant Suzan Jantjies, woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, het die voorval destyds by navraag bevestig en gesê ooggetuieverslae het bevestig dat die Polo ’n voertuig wou verbysteek en in die aankomende baan gery het toe die voertuig teen die Honda gebots het. ’n Saak van strafbare manslag is deur die polisie vir ondersoek geopen.

“Net die wete dat dit amper ’n jaar later is met geen vordering in die saak nie, mors met my. En, om in Pretoria te wees, maak dit soveel moeiliker, want ek kan nie net polisiekantoor toe gaan nie. Miskien sal ons ’n bietjie afsluiting kry as ons weet die saak is afgehandel,” het Van Wyk gesê.

“Ek het hulle al ’n paar keer gekontak en boodskappe gelaat. Ek het twee keer met die ondersoekbeampte gepraat. Ek het ook vir hom ’n paar WhatsApp-boodskappe gestuur, maar hy antwoord nooit. Ek wil graag ’n antwoord hê oor wat aan die gebeur is.”

Die moeder het vandeesweek aan die koerant gesê Justin het destyds by ’n vriend wat saam met hom by Hoërskool Centurion se Woerie-kampus skoolgegaan het, gekuier.

“Nadat hulle hul finale matriekeksamen voltooi het, het [hy] by sy broer in Somerset-Wes gewoon totdat die grense oopgemaak word sodat hy by sy pa in Nieu-Seeland kon gaan woon. [Hy] het dus vir Justin gevra om sy uitslae vir hom by Hoërskool Centurion op die 28ste Februarie te kry en sommer vir ’n week te kom kuier aangesien hulle nooit regtig ’n matriekvakansie gehad het nie. Ek het ingestem en hy het Dinsdagoggend 2 Maart gevlieg. Hy het ’n Uber van die lughawe na Somerset-Wes geneem. Ek het met hom gepraat in die paar dae wat hy daar was en die Vrydag het hy gevra of ek geld in sy rekening kan inbetaal aangesien hulle die aand wou uitgaan,” onthou sy.

“Die ongeluk het die Vrydagaand gebeur en sy vriend het nie my nommer gehad om my in te lig nie. Sy pa, wat in Nieu-Seeland bly, het my die volgende oggend via Facebook gekontak. Ek het nie geweet waaroor dit gaan nie, want hy het net vir my gesê hy moet dringend met my praat. Ek het my nommer vir hom gestuur en hy het my gebel. Dit was omstreeks 07:00 die Saterdagoggend toe hy my telefonies bereik en vertel dat daar ’n ongeluk was en dat Justin dood is.”

Volgens Van Wyk was sy baie ontsteld en geskok. “Ek wou nie glo wat hy vir my sê nie,” het sy gesê.

Van Wyk het gesê sy wil geregtigheid hê en die bestuurder moet boet vir wat hy gedoen het. Volgens die ouer beweer ’n getuie dat die bestuurder en sy vriend ná die voorval betrap is dat hulle die ongelukstoneel wou verlaat.

“Ek wil graag ’n antwoord hê oor wat aan die gebeur is en hoekom sommige getuies nog nie vir hul verklarings gevra is nie. Dit klink vir my na ’n toesmeerdery want hierdie ou het vriende in die polisie.”

Jantjies het gesê die ondersoek duur voort. “Versoek is gerig dat die ondersoekbeampte die klaagster sal kontak en haar op hoogte sal bring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article