Fantacia Hammer (9) se ma, Samonay, het ’n Backabuddy-veldtog begin om geld in te samel om haar dogter se groot droom te bewaarheid. Hier is Fantacia by die Suid-Afrikaanse kampioenskap, wat in September en Oktober verlede jaar plaasgevind het. Foto: Team Optics

Credit: SYSTEM

’n Leerder van Dr. G.J. Joubert Primêr in Strand se ma het besluit om ’n Backabuddy-veldtog van stapel te stuur om geld in te samel vir ’n opkomende kompetisie wat haar dogter moet bywoon.

Samonay Hammer, die negejarige Fantacia se ma, het besluit ’n tekort aan geld gaan nie in die pad van haar dogter se drome staan nie, en dis waarom sy ’n Backabuddy-veldtog vir haar dogter begin het.

“Ek is ’n enkel-ma van drie kinders, en Fantacia is baie passievol oor haar modelwerk. Sy doen al modelwerk van driejarige ouderdom af. Sy is ’n behulpsame kind wat altyd omgee vir haar medemens,” het Samonay gesê.

“Sy werk drie dae per week as ’n vrywilliger by ’n gemeenskaplike sopkombuis. Sy het ’n liefde en passie om ander te help. Haar grootste droom is om aan die Mini Miss RCA 2023-kompetisie in Oktober deel te neem. Ek het die veldtog begin om geld vir my kind in te samel. Haar groot droom is om die kompetisie te wen.”

Die mikpunt is ’n bedrag van R22 000 wat Samonay wil insamel om die kompetisie en ander bykomende onkostes te dek.

Fantacia, ’n Strand-inwoner, is verlede jaar in ’n kompetisie in April as nasionale skoonheid S.A. se Emerald-wenner asook die Royal Beauty S.A. Emerald-wenner aangewys. Daarna het sy aan die Wes-Kaapse kampioenskap in Julie deelgeneem, en kort daarna ook aan die S.A. kampioenskap, waar sy gekwalifiseer het om aan die Mini Miss RCA later vanjaar deel te neem.

“Die geld wat ingesamel word, sal vir die kompetisie se registrasie-fooie, vlugte en verblyf by die Wawielpark-vakansieoord, waar die kompetisie plaasvind, aangewend word. Ek wil ’n ieder en ’n elk bedank wat nog hul harte gaan oopmaak om my dogter te help om haar droom te bereik,” het Samonay afgesluit. V Vir meer inligting oor die Backabuddy-veldtog gaan dié webblad: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/fantacia-simone-hammer-5484889935312385557.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article