’n Ma van Gordonsbaai gaan letterlik die land per trekker deurkruis om geld vir haar dogter se komende toutrek-toer in te samel.
Corné Els, die ma van Marconette Els (16), ’n top-toutrekker van die Hoërskool Strand, gaan in Junie 1 600 km van Krugersdorp tot in Robertson per trekker aandurf om geld vir haar dogter se komende wêreldkampioenskaptoer in Augustus en September in Switserland in te samel.
Marconette is verlede jaar as ’n Protea vir die klub-afdeling gekies nadat sy vir die Disa-vroueklub tougetrek en hulle in verlede jaar se Suid-Afrikaanse-toutrekkampioenskap puik gevaar het. Sy is ná die kampioenskap en ’n paar toetskampe gekies om as Protea aan die wêreldkampioenskap in Sursee in Switserland in die 500 kg-onder-23-afdeling sowel as die 540 kg-vroue-afdeling deel te neem.
Volgens Els het die inspirasie vir haar idee ’n rukkie gelede gekom toe sy “brownies” gebak het om geld vir haar dogter se toer in te samel, maar al haar profyt is gereeld deur haar gesin verorber.
“Ons dominee het toe ’n skenking gedoen en ’n Bybelversie daarby aangeheg. Dit het gelui: ‘Stuur groete aan jou gemeente en God se genade sal met jou wees.’ Dit het vir my gesê ek moet groete stuur waar ek ook al gaan. En dit het vir my beteken ek moet per trekker groete stuur,” sê Els.
Sy het toe met die idee vorendag gekom om die rit met ’n rooi 1964- Massey Ferguson-trekker, wat destyds op hul plaas in Krugersdorp agtergebly het, aan te durf. Die trekker het destyds, toe die gesin Gordonsbaai toe verhuis het, in Krugersdorp agtergebly.
“Ek gaan die 1 600 kilometer in Junie aanpak – van Maandag 19 Junie tot Saterdag 1 Julie – met net een doel in die oog, en dis om R160 000 vir my dogter se toutrek-toer oorsee in te samel. Elke toutrekker moet hul eie toer self betaal, en dis hoeveel die toer ons uit die sak gaan jaag.”
Nel pak nie die moeilike rit alleen aan nie. Sy gaan vergesel word deur twee verteenwoordigers van Kolskoot Radio, wat in Strand gebaseer is.
“Corné het ons kom spreek vir mediadekking en ons het sommer daar en dan besluit om die hele reis saam met haar mee te maak. Ons gaan gereeld ‘live’ op die radio uitsaai en ons Facebook-blad en luisteraars op hoogte hou van hoe sy vorder,” vertel Helene Wilson, een van die omroepers by Kolskoot Radio.
Op hierdie tydstip het Els al R20 000 van die R160 000 ingesamel en sy vra lesers wat kan help en ’n kilometer teen R100 wil borg om haar by 078 802 7911 te bel. “Elke sent help, en ons vra almal om ons te help om ons dogter se toutrek-droom te bewaarheid,” sluit Els af.



