Met honderde kilometers agter die rug en die winter wat sy kloue daagliks ingeslaan het, het ’n ma van Gordonsbaai die land suksesvol deurkruis – van Krugersdorp in Gauteng tot in Klapmuts in die Wes-Kaap – op ’n rooi 1964- Massey Ferguson-trekker.
Corné Els, die ma van Marconette Els (16), ’n top-toutrekker van die Hoërskool Strand, het haar reis van 1 796 kilometer Saterdag (1 Julie) voltooi en ’n stewige R100 000 ingesamel. Marconette is gekies om in Augustus en September as ’n Protea aan die wêreldkampioenskap in Sursee in Switserland in die 500 kg se o.23-afdeling sowel as die 540 kg-vroue-afdeling deel te neem. Corné beskryf die reis as ’n ongelooflike ervaring.
“Die mense wat ek langs die pad ontmoet het, se hartlikheid, hul gebede en geloof het my deur die reis gedra,” vertel sy.
Volgens Els het sy geen laagtepunte ervaar nie, maar die afgelope Sondag (net voor die einde van haar reis) gesukkel met ’n pap wiel. Verder het haar stokou trekker nie ’n wiel verkeerd gesit nie.
“Ons het op Calvinia besluit om die roete te verander omdat ons in daardie stadium die Tankwa-Karoo moes deurkruis en daardie ellelange grondpad was op plekke verspoel. Ons is aangeraai om ’n ander roete te kies.”
Die rooi trekker het toe in die rigting van Porterville gedraai – op pad na die eindbestemming in Klapmuts.
Op die meeste van die foto’s kon ’n mens sien Els is baie warm aangetrek. Sy het soos die Oros-mannetjie gelyk met sakkies om haar hande om die winter se nattigheid uit te hou.
“By die begin in Gauteng se kant was die koue hanteerbaar, maar toe ek in die Noord-Kaap kom, was die koue baie erg. Ek het waterdigte handskoene gekry, maar dit was sommer vinnig deur nat. My kop was bedek met ’n balaklawa en ’n buff en ek het ’n pet op my kop gehad om die reën uit my gesig te hou,” vertel Els.
Op haar pad na die eindpunt by Babylonstoren in Klapmuts is sy vergesel deur mense op antieke trekkers (nes hare) en ’n groep motorfietsryers.
Met haar aankoms het familie en vriende haar ingewag en sy was dankbaar vir ’n ieder en ’n elk se ondersteuning.
“Mense se welwillendheid het my die meeste geraak. Hul omgee en liefde het so baie beteken. Ek bedank elkeen se bydraes, want nou kan my dogter op toer gaan,” sluit Corné af.



