Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n ma van drie van Somerset-Wes weens ’n steekvoorval op Valentynsdag dood is.

Die voorval het Maandagmiddag (14 Februarie) in Gants-sentrum plaasgevind en Carmen Pienaar van Lourensia-park geëis. Die 44-jarige het veelvuldige steekwonde opgedoen en later dié aand in die hospitaal beswyk.

Die oorledene se suster, Chantel Arendse (38), het vertel sy het die hartseer nuus ontvang nadat polisiespeurders, wat Dinsdagoggend aan haar voordeur kom klop het, navraag gedoen het en Pienaar met besonderhede en amptelike dokumentasie wat verskaf is, as die oorledene geïdentifiseer het.

“Ek het by navraag ’n beëdigde verklaring wat Carmen ingedien het nadat haar plek verlede Maart afgebrand het, aan hulle gewys. Daarby was haar besonderhede en ’n afskrif van haar ID,” het sy verduidelik.

Volgens ’n woordvoerder van die Strand-polisie het lede ondersoek ingestel nadat hulle deur die hospitaal ingelig is dat “ ’n vrou met steekwonde deur die ambulans ingebring is en beswyk het”.

’n Nadere polisieondersoek het openbaar dat die voorval omstreeks 16:00 in ’n stegie tussen die snelweg en Mynhardtstraat plaasgevind het. Die oorledene het haar na bewering in dié omgewing bevind waar koper gebrand is en ’n veldbrand gevolglik ontstaan het.

Die steekvoorval het glo kort nadat die veldbrand na bewering vanself doodgeloop het, gevolg.

Volgens die polisie het beeldmateriaal wat verkry is, gewys wat moontlik gebeur het. Dit toon blykbaar dat die oorledene deur ’n man, wat op ’n fiets by die stegie ingery het, genader is. Die twee het gepraat (asof hulle mekaar ken) en later het ’n skynbare gestoei vir die oorledene se fiets gevolg.

Op een tydstip tel die verdagte iets van die grond af op en toe sy na haar fiets gryp en greep verloor, steek hy haar daarmee. Die verdagte het na bewering spore gemaak nadat iemand weens die rumoer in die stegie op hulle geskree het. Pienaar het glo vir ’n tydjie heen en weer geloop totdat sy in die stegie neergeval het.

Lede van die publiek, onder wie plaaslike buurtwaglede, het glo op die voorval reageer en nooddienste, insluitend ’n ambulans in die omgewing, na die toneel ontbied.

Volgens die polisiewoordvoerder is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Arendse het haar oudste suster as liefdevol, altyd gewillig om te help, saggeaard en iemand wat die grootste respek vir ander gehad het, beskryf. “Sy het ná matriek aan die Hoërskool Gordon rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar het opgeskop en later in ’n kettingwinkel gewerk voordat sy in dwelms verval en eindelik los werkies gedoen het om kop bo water te hou,” het sy gesê.

Pienaar word oorleef deur haar twee susters, Chantel en Sonitia Petersen (36), asook drie dogters – 15, 14 en agt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article