Die lyk van ’n onbekende man is Sondagmiddag (28 Mei) in ’n beboste gebied in Macassar-weg gevind. Die voorval is voorafgegaan deur nog ’n gruvonds die vorige dag (Saterdagmiddag 27 Mei) toe die lyk van ’n onbekende vrou by Macassar-strand aangetref is.


Die Macassar-polisie doen beroep op die publiek om na vore te kom met inligting wat moontlik kan help om twee lyke wat die afgelope naweek in die gemeenskap ontdek is, te identifiseer.

Die lyk van ’n onbekende man wat vermoedelik die slagoffer van moord was, is Sondagmiddag (28 Mei) in ’n beboste gebied in Macassar-weg gevind. Die voorval is voorafgegaan deur nog ’n gruvonds die vorige dag (Saterdagmiddag 27 Mei) toe die lyk van ’n onbekende vrou by Macassar-strand aangetref is.

Volgens die Macassar-polisiewoord­voerder sers. Desire Adendolf is die polisie Saterdag omstreeks 07:00 deur ’n visserman wat die liggaam van die jong vrou op die water sien dryf het, na die toneel by die strand ontbied. Die liggaam van ’n bruin vrou wat vermoe­delik iets in die dertig is, is deur owerhede uit die water gehaal. Die vrou was halfnaak.

“Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat met die ondersoek en die uitkenningsproses kan help om na vore te kom,” het Adendolf gesê.

Mense met inligting word gevra om speursers. Norman Ngonelo by die Macassar-polisiekantoor (021 857 7100) te bel. Dieselfde geld vir diegene met moontlike leidrade oor Sondag se gruvonds.

Volgens Adendolf is polisiebeamptes omstreeks twaalfuur na die toneel naby die Macassar-rioolaanleg ontbied. Met hul aankoms is die man met verskeie wonde aan die gesig aangetref. Die vermeende moordslagoffer was in ’n blou langmou-top, donker jeans en ’n oranje bib geklee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article