Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n lyk met menigvuldige skietwonde in die gebied gevind is.
Die lewelose liggaam van ’n onbekende man, wat skynbaar ’n skietdood gesterf het, is Sondagoggend (25 September) in Macassar-weg ontdek nadat inwoners van ’n omliggende woonbuurt glo die vorige aand (Saterdag) skote hoor klap het en ’n verdagte voertuig in die gebied gewaar het.
Luidens ’n polisieverslag is polisielede omstreeks 09:00 na die toneel ontbied. “Met hul aankoms is die oorledene met agt sigbare skietwonde aangetref,” lui die verslag.
“Volgens inwoners van die Sandvlei-gemeenskap het hulle die vorige aand skote hoor klap en ’n Toyota Quantum-minibus gesien die gebied verlaat.”
Die vermeende moordslagoffer, ’n man wie se identiteit teen druktyd steeds onbekend was, het ’n ligte blou denimbroek, swart hemp, baadjie en tekkies aangehad. Die polisie vermoed die oorledene kan tussen 35 en 40 jaar oud wees.
Rhoda Bazier, waarnemende voorsitter vir die Macassar-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het laat weet die gruvonds is die tweede van dié aard waaronder Macassar die afgelope paar maande gebuk gaan.
Volgens haar, blyk dit asof die Macassar-gemeenskap ’n stortterrein (vir lyke) geword het.
“Ons het onlangs die Spiritual Crime Prevention-komittee gestig en ons gemeenskap het die geestelik leiers nodig om misdaad te bekamp en Macassar in gebed op te dra,” het Bazier gesê.
V Enigiemand met inligting wat tot ’n deurbraak in die moordsaak kan lei of help om die oorledene te identifiseer, kan speursersant Norman Ngonelo by die Macassar-polisiekantoor by 021 857 7100 bel.

