Benewens DNS-toetsuitslae wat met Denecke verbind is, is die 10-jarige in dieselfde T-hemp wat sy op dié foto op die vermiste persoon-kennisgewing aangehad het, aangetref.


Die lyk wat verlede Sondag (12 Maart) in ’n toegegroeide kanaal in Macassar gevind is, is vandeesweek as dié van die vermiste Denecke Persence uitgeken.

Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie is DNS-toetse ná die gruvonds gedoen en die toetsuitslae is Maandag (20 Maart) ontvang. Benewens die toetsuitslae wat positief met Denecke verbind is, is die 10-jarige gevind in dieselfde T-hemp wat sy op die foto van die vermiste persoon-kennisgewing aangehad het.

Die nuwe verwikkelinge volg nadat nuus van Denecke se verdwyning aanvanklik verlede Sondagoggend bekend geword het toe ’n kennisgewing wyd en syd via sosiale media versprei is en ’n beroep op die publiek gedoen is om die meisie, wat verlede Saterdag omstreeks 14:00 laas in Zandvlietweg oorkant die taxistaanplek gesien is, te help opspoor. Volgens die pamfletbeskrywing het Denecke, wat lang bruin hare (in ’n bolla), bruin oë en ’n skraal liggaamsbou het, ten tyde van haar verdwyning ’n pienk, geel en wit top met blou jeans en swart tekkies aangehad.

Nuus van die gruvonds in die gemeenskap het gou versprei en teen Sondagmiddag is ’n lyk, wat vermoedelik dié van Denecke was, in ’n oorgroeide kanaal langs Rembrandtlaan in Marvinpark gevind (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” Netwerk24, 12 Maart). Plaaslike owerhede is omstreeks 14:00 Sondag tot aksie geroep nadat Denecke se lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Saterdagaand na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms op die toneel het talle gemeenskapslede in ongeloof en skok rondom die toegegroeide kanaal saamgedrom terwyl die polisie die gebied vir bewyse en moontlike leidrade gefynkam het. Talle omstanders, onder wie Denecke se ontstelde familielede, het op die toneel gebly totdat die liggaam, wat heeltemal onder water en met die gesig na onder deur ’n vragmotorband vasgepen was, teen 17:00 verwyder is.

’n Geregtelike nadoodse ondersoek is deur die Macassar-polisie geopen en DNS-toetse is Dinsdag 14 Maart weggestuur omdat ’n formele uitkenning weens die ontbinding van die lyk nie sou kon bepaal of die lyk wel dié van Denecke is nie (“Lyk van meisie dalk Denecke,” 15 Maart).

Intussen het die gruvonds geestelike leiers genoop om saam te span vir ’n gebedsessie wat verlede Maandagaand (13 Maart) by die plek waar Denecke se liggaam ontdek is, gehou is. ’n Deurry-gedenkdiens vir die jongeling is verlede Donderdagaand by die J-woonstelblok in Bass-straat gehou.

’n Naasbestaande van Denecke, wat verlede week se geleentheid om kommentaar te lewer van die hand gewys het, het vandeesweek anders besluit.

Volgens die naasbestaande is die familie en haar gesin baie hartseer ná die hartverskeurende verlies van hul “prinsessie”. Denecke sou op die dag van haar verdwyning saam met haar sibbe en die naasbestaande gegaan het om hul oupa, wat van Touwsrivier af kom besoek het, te groet.

“Toe ek hulle moes oplaai, was almal behalwe Denecke, wat spoorloos verdwyn het, mooi aangetrek en gereed om te gaan. Ek het aan haar ouer suster, wat tuis gebly het, gesê dat sy op die uitkyk moet wees vir haar en ’n ogie oor haar moet hou as sy dalk opdaag. Maar sy het nooit teruggekeer nie,” het die naasbestaande gesê.

“Wanneer Denecke geglimlag het, het alles – haar hele liggaam – saam geglimlag . . . Ons sal dít en haar lady-like maniertjies vir ewig koester.”

Denecke was ’n leerder aan die Marvin Park Primêre Skool en volgens die skoolhoof, Roekyda Kuys, word die verlies van ’n geliefde jongeling deur die skoolgemeenskap gevoel.

Kuys het gesê Denecke het in beide netbal en akademie uitgeblink.

“Die verlies is uiters skokkend en berading is deur die provinsiale onderwysdepartement gereël.

“Verder is daar ook ’n maatskaplike werker op die skoolterrein om met enigiets wat leerders of gemeenskapslede kwel te help.

“Die skool verleen ook sy onwrikbare ondersteuning aan die bedroefde familielede,” het Kuys gesê.

’n Begrafnisdiens vir Denecke word vir Sondag 26 Maart gereël.

Denecke word oorleef deur haar ouers en sibbe, twee susters (23 en agt) en twee broers (14 en sewe).

Die polisie-ondersoek duur voort.

Personeel van Dr. G.J. Joubert Primêre Skool het Vrydag swart gedra ter nagedagtenis van Denecke se skokkende verlies, asook een van hul gr. 7-leerders, Joshua Cookson wat skielik Donderdag (16 Maart) oorlede is nadat hy by die skool siek geword het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article