Met vriendelikheid het ’n geesdriftige Christine Koopman van Somerset-Wes Maandag (11 November) almal wat oor die drumpel van haar voordeur tot in haar voorhuis getrap het om hul seënwense mee te deel, gegroet.
Haar Lourensia-park-woning het behoorlik gewemel van besoekers wat in ligte luim vir ’n gesellige partytjie byeengekom het ter viering van die geliefde Antie Toy se verjaarsdag.
“Ai, my kind, ek het net vanoggend vir my skoonsuster se seun gesê ek het gedink ek word ouer, maar hoe lyk dit vir my ek raak jonger?” spot Antie Toy in die lig van haar 99ste verjaardag.
Dié inwoner – een van die gemeenskap se oudste – hou ná ’n Godgegewe vyf jaar sedert die koerant haar 94ste verjaardag saam met haar gevier het, steeds vol: “Dis net deur Sy genade; Sy bewarende hand” dat sy nog uitgespaar is en uitsien na die goue ouderdom van 100 (“ ‘Antie Toy’ se 94ste gul gevier,” DistriksPos, 14 November 2019).
Met die vlugtige besoek aan die 99 jaar jonge verjaardagmeisie is haar medemenslikheid nog meer bewonderenswaardig en haar Christenskap nog meer kragtig.
Dis ongelooflik dat haar hare niks gryser of haar gesig nie veel meer geplooi is nie. Daarbenewens is haar geheue steeds glashelder en haar gees kan skynbaar deur geen lewensuitdaging gekniehalter word nie.
Antie Toy koester kosbare herinneringe van haar maer, dog lekker grootwordjare op die Bredell-plaas en haar liefdevolle huwelik met Joseph, saam met wie sy 11 kinders gehad het.
Sy onthou die “goeie” dae van harde werk, benewens die swaarkry, en spog met haar kennis wat sy as huishulp in en rondom die huis opgedoen het. Haar vier oorlewende kinders en string kleinkinders, agterkleinkinders en agteragterkleinkinders hou haar aan die gang en sy is trots op haar gehegte familie.
Antie Toy het voorts meegedeel dat sy in haar rustiger goue jare die stiltetyd en liefde van Die Woord geniet – nog meer, haar liefdevolle familie en die vriendskappe waarmee sy geseën is.
Soos elke keer wanneer haar verjaardag omkom en nog ’n jaar tot haar lewe bygevoeg is, is sy opnuut dankbaar vir die Here wat haar in die holte van Sy genadehand dra.
“Vorentoe sien ek uit daarna om ’n kind van die Here, wat my gedra het, te bly,” het sy aangevoer.
Haar resep vir ’n lang lewe bly: “Eer jou vader en jou moeder, en die dae van jou lewe sal verleng word,” wat ook haar raad aan jongelinge is.




