Die beskuldigde Charles Apollis, wat van die grumoord op Nadia Lotz aangekla word, het voorverlede Woensdag (15 November) weer in die Strand-landdroshof verskyn.

Apollis staan tereg weens die moord op die ma van sy drie minderjarige kinders.

Lotz het Saterdag 4 Maart die slagoffer van ’n noodlottige mesaanval, wat glo uit ’n stryery tussen die oorledene en die moordbeskuldigde gespruit het (“Pa vermoor glo ma van 3,” 8 Maart), geword. Apollis word daarvan beskuldig dat hy die 32-jarige van Temperance Town se keel afgesny het. Die paartjie het na bewering ’n saamrygeleentheid met die oorledene se vriendin uit die Strand na Gordonsbaai ontvang en was glo op pad huis toe, toe hulle in die motor stry gekry het. Die beweerde woordewisseling het glo uiteindelik in die noodlottige mesaanval ontaard.

Strand-polisiebeamptes het omstreeks 18:00 daardie Saterdag op die voorval in Laer Gordonsbaaiweg gereageer. Apollis, wat glo agter Lotz gesit het, het na bewering oor die passasiersitplek geleun en haar keel afgesny. Nadat Lotz glo in die ry uit die bewegende motor gestoot is, is die vriendin, wat agter die stuurwiel was, na bewering met die mes gedreig en opdrag gegee om aan te hou ry. Lotz is op die toneel dood. Die beskuldigde het hom later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee.

Die Strand-polisie het ná sy inhegtenisneming bevestig dat die beskuldigde al voorheen van verskeie geweldsmisdade aangekla is, maar nooit skuldig bevind is nie. Hy was ook ten tyde van die moord uit op borgtog in ’n poging-tot-moord-saak.

Apollis bly vir die duur van die hofsaak in aanhouding nadat hy by ’n vorige hofverskyning op Vrydag 10 Maart sy borgtogaansoek laat vaar het (“Beskuldigde weier borg,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 Maart). ’n Petisie teen sy vrylating, wat deur honderde gemeenskapslede van Temperance Town onderteken is, is ook op dié dag aan die hof oorhandig.

Die saak is met sy mees onlangse hofverskyning tot Woensdag 13 Desember uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article