Familie en vriende van die vermoorde Nadia Lotz het Vrydag met die moordbeskuldigde se hofverskyning in teenstand van borgtog buite die Strand-landdroshof aan ’n plakkaat-betoging deelgeneem.

Credit: SYSTEM

Die beskuldigde wat van die grumoord op Nadia Lotz aangekla word, het Vrydag (10 Maart) weer in die Strand-landdroshof verskyn en sy borgtogaansoek laat vaar.

Die nuwe wending beteken dat die beskuldigde, Charles Apollis, wat weens die moord op die ma van sy drie minderjarige kinders in hegtenis geneem is, deur die loop van die moordsaak in aanhouding sal bly. Die saak is vir verdere ondersoek tot Vrydag 14 April uitgestel.

Apollis se hofverskyning volg nadat hy in verband met die moord op Lotz, wat verlede Saterdagaand (4 Maart) die slagoffer van ’n messteekvoorval was, in hegtenis geneem is. Die voorval waartydens die 32-jarige moeder van Temperance Town se keel na bewering afgesny is, spruit glo uit ’n stryery wat tussen die oorledene en die moordbeskuldigde ontstaan het (“Pa vermoor glo ma van 3,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart).

Die paartjie het na bewering ’n saamrygeleentheid met die oorledene se vriendin uit die Strand na Gordonsbaai ontvang en was glo op pad huis toe toe hulle in die motor stry gekry het. Die beweerde woordewisseling het glo uiteindelik in die noodlottige mesaanval ontaard.

Volgens polisie het Strand-polisiebeamptes omstreeks 18:00 op die voorval in Laer Gordonsbaai-weg gereageer. Die verdagte, wat glo agter Lotz gesit het, het na bewering oor die passasiersitplek geleun en haar keel afgesny. Nadat Lotz glo in die ry uit die bewegende motor gestoot is, is die vriendin, wat agter die stuurwiel was, na bewering met die mes gedreig en opdrag gegee om aan te hou ry.

Lotz is op die toneel dood.

Die beskuldigde het hom later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee.

Naasbestaandes het verlede week hul skok en smart in lig van die tragiese verlies uitgespreek en gesê Lotz was ’n slagoffer van huishoudelike geweld. Sy en die moordbeskuldigde het saam by haar ma, Diana (63), in Temperance Town gewoon.

Familielede het Vrydag met plakkate buite die Strand-landdroshof teen die moordbeskuldigde se borgtog betoog.

’n Petisie wat deur honderde gemeenskapslede van Temperance Town onderteken is, is ook op dié dag aan die hof oorhandig.

Volgens die gemeenskapsaktivis Heather Mercuur het die petisie teen die vrylating van die moordbeskuldigde, wat verskeie kere al met die gereg gebots het, byna 300 handtekeninge van inwoners in die gemeenskap gewerf.

“Ons is bly dat hy sy borgtogaansoek van die hand gewys het, want hy is ’n gevaar vir die gemeenskap en inwoners soek hom nie ‘buite tralies’ nie,” het Mercuur gesê.

Die Strand-polisie het by navraag bevestig dat die beskuldigde al voorheen van verskeie geweldsmisdade aangekla is, maar nooit skuldig bevind is nie. Hy was ook ten tyde die beweerde moord uit op borgtog vir ’n poging-tot-moordsaak, waarvoor in die hof was. Die polisie doen beroep op mense met inligting om die polisiekantoor by 021 854 9100 te bel.

Die Temperance Town-gemeenskapsaktivis Heather Mercuur en Lotz se moeder, Diana.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article