Die beskuldigde Charles Apollis, wat van die grumoord op Nadia Lotz aangekla word, het Maandag (14 Julie) weer in die Strand-streek­hof verskyn.

Die saak is met die hofverskyning tot Donderdag 24 Julie uitgestel.

Apollis staan tereg vir die moord op Lotz, die ma van sy drie minderjarige kinders. Die 32-jarige ma van Temperance Town het op 4 Maart 2023 die slagoffer van ‘n noodlottige mesaanval geword tydens ‘n rit van Strand na Gordonsbaai (“Pa vermoor glo ma van 3,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart 2023).

Na bewering het ‘n rusie in die motor uitgebreek, waarna Apollis glo haar keel afgesny en haar uit die bewegende voertuig gestoot het. Die vriendin wat bestuur het, is met die mes gedreig om aan te hou ry.

Lotz is om 18:00 in Laer Gordonsbaaiweg dood. Apollis het hom later by die Gordonsbaai-polisiekantoor oorgegee.

Volgens die polisie is die beskuldigde al voorheen van geweldsmisdade aangekla, maar nooit skuldig bevind nie. Hy was ten tyde van die moord uit op borgtog in ‘n poging-tot-moord-saak. Apollis bly vir die duur van die hofsaak agter tralies nadat hy sy borgtogaansoek laat vaar het (“Beskuldigde weier borg,” 15 Maart 2023).

Die saak is verlede Donderdag (10 Julie) vir verhoor hervat.

Volgens die burgerregteorganisasie Action Society het Apollis met die hofverskyning dié dag skuld ontken en die eerste getuie, Lotz se vriendin, het oor die gebeure van daardie dag getuig.

Lotz se familie het in die lig van die nuutste hofverwikkelinge hul hoop vir geregtigheid opnuut uitgespreek.

“Niks kan Nadia terugbring nie; hy móét boet vir wat hy gedoen het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article