Die hofsaak weens ’n moord in Maart was onlangs weer op die rol, maar dit het ou wonde van die oorledene se ma van voor af oopgekrap.
Shakier Losper (22) is vermoedelik Sondag 27 Maart omstreeks 04:30 met ’n mes in Fredericksstraat in Erijaville gesteek. Hy is later met sy aankoms by die Helderberg-hospitaal dood verklaar.
Twee van die drie verdagtes wat destyds weens die moord op Losper in hegtenis geneem is, het Woensdag 9 November weer in die Strand-landdroshof verskyn.
Die twee verdagtes, die broer en suster Eugene en Nikita Benjamin, het vlugtig in die hof verskyn.
Die sibbe is al twee tans uit op borgtog en, volgens ’n vertroulike bron by die Strand-landdroshof ,is geen borgtogvoorwaardes vir die twee verdagtes in die hof-boek opgeteken nie.
Gwendoline, Losper se ma, vertel toe sy die twee verdagtes weer in die hof sien, het dit haar hart net nog seerder gemaak en het als weer in haar geheue afgespeel. “Dit is nog baie seer. Dis ’n seer wat nooit sal genees nie. Ek is gebroke,” het sy vertel.
Die hofsaak is tot Donderdag 25 November uitgestel.




