Die lewe van ’n jong volwasse vrou van Victoriapark in Somerset-Wes het handomkeer verander toe sy uitvind dat sy ’n seldsame mondkanker het.
’n Klein wond op haar tong, wat as net ’n wond begin het, het 22-jarige Logan Abrahams se hele lewe later verander.
“Ek het die seertjie in Maart verlede jaar op my tong gesien en gevoel. Ná onderskeie besoeke en ondersoeke by die Sir Lowry’s Pass-kliniek, die Helderberg-hospitaal en die Strand-kliniek, was ons moedeloos omdat ons nie antwoorde kon kry of ’n behandeling wat dit kon genees nie. Dit was baie moeilik om te eet en ek het baie gewig verloor. Ek is toe na ’n private dokter, wat my na ’n oor-, neus- en keel-spesialis verwys het.”
Logan het die nuus Donderdag 8 September gekry dat sy kanker van die tong het.
“Die dokters by die Tygerberg-hospitaal was baie verbaas. Hulle het nog nooit dié soort kanker in iemand so jonk soos ek gesien nie. Ons as familie was platgeslaan,” sê sy.
Volgens die dokters is die kanker op haar tong die gevolg van die menslike papilloom-virus (HPV).
Levirn Sylvester, Logan se ma, sê dit was die ergste dag van haar lewe as ma toe sy uitvind haar dogter het kanker.
“Ek kon nie ophou huil nie. Hoekom kon dit nie net ek gewees het nie, was van die vrae wat ek die heeltyd gevra het. As die kanker net vroeër ontdek is, sou ons nie deur al die trauma gegaan het nie. Ek het dae omgehuil,” vertel Sylvester.
Logan sê sy het die onmoontlike uitdaging met die hulp van God en haar familie aangepak.
“Ek het ’n tien uur lange operasie ondergaan, waarin die aangetaste gedeelte van my tong en ook kliere in my nek verwyder is. Ek het Maandag 21 November met bestraling begin. Die ses weke se in- en uit-ry na die Tygerberg-hospitaal was uitputtend. Elke Maandag moes ek die dokter besoek en elke Vrydag moes hulle bloed trek,” sê sy.
Die bestraling het egter sy tol begin eis en naarheid, oormatige speeksel en die onvermoë om te proe asook die verkleuring van haar vel naby haar nek en rondom haar mond was haar nuwe realiteit.
“Dit het ’n groot invloed op my menswees gehad. Ek is nie toegelaat om my hare, nek en skouers te was nie en moes uit die sonlig bly. Ek was moeg – liggaamlik en sielkundig,” onthou sy.
Haar bestralingsprogram het Vrydag 30 Desember geëindig.
“Ek het geen onderbreking met die terapie gehad nie en ek was ontslae van die groot masker wat ek moes dra terwyl dit toegedien is.”
Haar ma vertel sy het ’n vrees vir naalde gehad en het paniekaanvalle gekry as sy ’n naald gesien het. “Dit was wat sy als moes deurmaak, soos die slym in haar mond asook ’n gedeelte van haar hare wat uitgeval het. Vir haar was die grootste frustrasie dat sy nog nie reg kon praat nie,” sê Sylvester.
Logan vertel die dokters en radioterapie-span het haar kort hierna in kennis gestel hulle is tevrede met haar vordering.
“Op Woensdag 8 Februarie is geen kanker meer by my bespeur nie. Hoewel ek ’n bietjie moeilik praat en nog oormatige speeksel ervaar, kan ek baie beter proe hoe iets smaak. Ek sterk nou by die huis aan en vertrou God op my pad vorentoe. Ek bly positief en my volgende afspraak by die dokters is eers weer in Mei,” deel Logan.



