Leerders van die Laerskool Lochnerhof in Strand kan nou self in hul eie agterplaas boer en die opbrengs van hul vrugte proe.
Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap het Woensdag 24 April die skool besoek om die PlantSelf-projek daar van stapel te stuur en ook ’n waardevolle plantkoepel op te rig.
Die plantkoepel is ’n draagbare kweekhuis wat sowat 1 046 mm hoog en 1 610 mm breed is. Die koepel het ’n ingeboude besproeiingstelsel en kan in alle weersomstandighede funksioneer. Dit sal die skool in staat stel om voedselbronne van hul eie te kweek en benut.
“PlantSelf poog om kinders vanaf ’n jong ouderdom te bemagtig met kennis en vaardighede ten opsigte van tuin- en landbou. Plantkoepels bied ook ’n geleentheid vir individue om selfvoorsienend te wees, hul gemeenskap te ondersteun, en hoop te laat groei,” sê Alisha de Lange, Helpende Hand se streekbestuurder.
Verskeie geïdentifiseerde skole baat by Helpende Hand se voedingskemas, soos HelpJag en die Kosblikkie-projek, wat daagliks meer as 8 000 behoeftige kinders ’n voedsame bord kos gee.
Volgens De Lange droom Helpende Hand van ’n volhoubare toekoms vir gemeenskappe en poog die instansie om meer skole en instansies te bemagtig om self te plant en ekonomies volhoubaar te wees.
“Enigiemand kan betrokke raak deur ’n skool te identifiseer en geld vir ’n plantkoepel te skenk of maandeliks ’n donasie te maak om Helpende Hand se voedingsskemas by skole te ondersteun. Maak vandag nog ’n verskil, vul ’n honger magie en skenk ’n Plantkoepel. Besoek www.plantself.co.za vir meer inligting,” sê De Lange.


