Lindie Strydom en haar gesin. Links staan haar seuns Hugo en Paul, agter haar staan haar man, Johann, en regs is hul dogter, Nina.


’n Voormalige aktrise en televisie-aanbieder, wat deesdae die rol van kommunikasie en bemarkings-beampte by die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes vervul, het onlangs besluit om ’n nuwe rigting in te slaan.

Lindie Strydom (45), wat in die vroeë 2000’s naam gemaak het toe sy die rol gespeel het van Karin Schoeman in die gewilde sepie Egoli wat destyds op M-Net uitgesaai is, het in 2021 aansoek gedoen vir die pos by PV en ’n dokument vir David Schenck, die skoolhoof van PV, gestuur wat volgens haar meer na ’n tydskrifartikel as ’n CV gelyk het.

“Ek het nie ’n CV nie; ek het ’n storie – ’n storie wat al wye draaie gemaak het van ’n ‘Stad van Goud’ en die stofpaadjies van verskillende plakkerskampe tot TV-programme, verskeie verhoë en uiteenlopende gehore, voorblaaie en tydskrifartikels, boeke en blogs, inspirasiegedagtes en die vestiging van ’n hande-en-voete-handelsmerk vir ’n radiostasie in Pretoria. Die goue draadjie regdeur my lewe se storielyn bly egter my liefde vir God en Sy mense, en natuurlik ook my eie mense by die huis – my man, Johann, en ons drie kinders, Paul, Hugo en Nina,” lui haar CV.

En net soos dit het Strydom die pos gekry en sy het op 1 September 2021 amptelik by Parel Vallei aangesluit.

“In my onderhoud het ek my inside-out-strategie verduidelik. Ek wou graag 1 300 Parel Valleiers (en hul ouers, familie en vriende) so trots maak op die skool waarvan hulle deel is, dat hulle self spontane bemarkers van Parel Vallei word. Baie ligter werk vir my en baie meer doeltreffend as plakkate op ’n lamppaal met die een of ander slim bewoorde bemarkingsboodskap wat soms van mense se persoonlike belewenis verskil. Ek het probeer om die trots en beeld van binne af na buite te bou,” vertel sy.

Sy het nie net presies gedoen wat sy gesê het sy sou nie, maar haarself ook baie by die skool geniet. “Ek het dit terdeë geniet (en dalk ook so bietjie oorwerk) om so veel as moontlik van Parel Vallei en ons mense se stories te deel, hetsy met ’n foto, video, onderhoud of spog-artikel. As ek so terugkyk oor die afgelope 18 maande, het ons gemiddeld 100 plasings (stories, artikels, foto’s, videos, ens.) per maand gehandhaaf. En ek het steeds gevoel ek kom nie by alles uit nie,” sê Strydom.

Sy het besluit – veral ná die Covid-19-pandemie – dit is belangrik om mense se stories te vertel.

“Ek wou nie net swart en wit statistieke of uitslae deel nie, maar die menslike stories. Interessant genoeg was joernalistiek een van die rigtings wat ek ná skool oorweeg het, maar ek sou dit nie gemaak het met al die moord en doodslag nie. Die Here het my pad so mooi vooruitgegaan tot waar ek vandag die verteller van goeie nuus kan wees met ’n loopbaan wat ek nie sou kon bestel as ek probeer het om dit self uit te dink nie.”

Strydom is onlangs deur haar beste vriendin herinner dat sy ’n Godgegewe talent het om mense en groepe rondom ’n gemeenskaplike doel bymekaar te bring.

“Ek is nog nie seker hoe dit gaan lyk nie, maar sien uit om presies dit in die nuwe seisoen te doen. Ek wil graag my ervaring in die mediawêreld, kennis van gemeenskapsorganisasies en -projekte en liefde vir mense en stories-vertel en op kreatiewe maniere inspan om ’n gemeenskap te mobiliseer om saam ’n groter verskil te maak. My werk by Parel Vallei het ook ander passies binne die opvoedkundige-omgewing weer van voor af aangevuur.”

Strydom het agtergekom leierskap begin (of eindig) nie wanneer ’n prefek ’n balkie teruggee nie, en soveel meer jongmense sal graag wou leer oor hoe om hul roeping met dapperheid na te streef.

“Ek sien uit om meer van hierdie opleidingsgeleenthede vir laerskole en hoërskole saam met my gesin aan te bied, en meer gereelde personeelontwikkelingsgeleenthede te bied en selfs opleiding vir sprekers en aanbieders,” sê sy sonder om te veel weg te gee.

Strydom, wie se reis by PV op 30 April ten einde loop, bieg dat sy ongetwyfeld die mense, die leerders asook haar eie kinders wat soms by haar kantoor ingebars het met hul sportsakke en stories van die dag, gaan mis. “Ek het soveel vriende, rolmodelle en mentors ontmoet, saam met wie ek nog baie koffie gaan drink om die balans van lewe, gesin en werk beter te handhaaf. Parel Vallei se grootste rykdom is die roeping-gedrewe onderwysers wat steeds elke dag nie net kennis oordra nie, maar hoop in die harte van ’n geslag mense wat met soveel onsekerheid grootword.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article