Die naambord van Miemie’s Liefies wat intussen afgehaal is nadat die eienaar bevestig het dat sy die besigheid gaan “sluit”.Foto: Rick Marais


’n Dagsorg in Strand, wat verlede jaar in die nuus was, het nadat bewerings die ronde begin doen het oor babas en peuters wat die vermoedelik slagoffers was van seksuele mishandeling by die dagsorg was, is weer in die kollig nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) bevestig het die skool mag nie meer sake doen nie.

Liefielyfie-babasorg, wat tans bekend staan as Miemie’s Liefies-dagsorg, het juis onder ’n nuwe naam heropen omdat die eienaar, Joey Cosmo, gevoel het sy wil ’n nuwe bladsy omblaai om weg te kom van al die slegte konnotasies van die Liefielyfie-babasorg se naam.

Maar, die WKOD het bevestig dat ’n S85-bevel, wat verlede jaar uitgereik is, die dagsorg belet om na enige kinders by die perseel om te sien. Die feit dat hulle weer oop is, is onwettig.

Cosmo, wat nog besig is om Miemie’s Liefies-babasorg by die Wes-Kaapse departement van gemeenskaps­ontwikkeling te registreer, is verlede jaar – kort nadat die aantygings uitgelek het – ingelig dat sy steeds die huidige vyf kinders na wie sy omsien, mag versorg mits sy die ouers inlig van die aantygings wat teen die dagsorg geopper is.

“Ek het [die skool se] naam verander, want as jy Liefielyfie-babasorg [op Google] intik, verskyn al daardie leuens oor die aantygings teen ons – waaraan ons onskuldig is,” vertel Cosmo.

Gerugte

Gerugte het in Maart verlede jaar die ronde begin doen dat babas asook peuters by die dagsorg die slagoffers was van seksuele mishandeling (“Geen ‘lyfies’ meer by Liefielyfie,” Distrikspos, 14 April 2022).

Die ouers van die kleingoed is op 25 Maart 2022 deur die Wes-Kaapse departement van gemeenskaps­ontwikkeling versoek om hul kinders uit die sorg van die sentrum te verwyder.

Een van die mamma’s wie se dogtertjie vermoedelik by Liefielyfie-babasorg seksueel mishandel is, vertel dit gaan darem al beter met haar.

“Dit gaan beter, al kry sy soms nog night terrors. Die ander kinders (wat ook glo seksueel mishandel is) se ouers vertel my dat hulle soms aggressie toon en sommige aande piepie hul nog die bed nat. Dit het definitief die kinders geskaad. In dié stadium weet ons net dat die saak by die direkteur van openbare vervolging is,” sê dié ma.

Eric Ntabazalila, ’n provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig dat die dossier tans by die nasionale direkteur van openbare vervolging is.

“Ons is besig om die dossier na te gaan en ’n besluit sal dan geneem word of ons gaan vervolg of nie,” sê Ntabazalila.

Cosmo erken sy het ’n fout gemaak om nie (die departement van) maatskaplike ontwikkeling te bel om uit te vind of die saak afgehandel is nie.

“Ek het laas met die aanklaer by die plaaslike hof gesels en sy het my ingelig om aan te gaan met my lewe. Ek het aangeneem ek kan aangaan. Ek het my brand-inspeksie-sertifikaat in Desember ontvang, asook ’n gesondheid-klaringsertifikaat van die Stad Kaapstad wat aandui dat my perseel geskik is om na tot 15 kinders om te sien. Ek het toe my dagsorg onder ’n nuwe naam oopgemaak,” sê Cosmo.

Die klaringsertifikaat bevestig dat die nuut geregistreerde Miemie’s Liefies-dagsorg in klaskamer 1 mag omsien na vyf kinders tussen die ouderdom van 0 en twee jaar en in klaskamer 2 na 10 kinders tussen die ouderdom van twee en ses jaar.

Die WKOD het bevestig dat die fasiliteit waaruit Miemie’s Liefies-dagsorg (voorheen Liefielyfie-babasorg) in Alex Pienaarstraat in Strand bedryf word, nie aan die registrasievereistes voldoen nie.

“Die fasiliteit voldoen ook nie aan die Covid-19-vereistes nie. Dit volg ook nie die nasionale norme en standaarde vir gedeeltelike sorg-fasiliteite se regulasies soos gestipuleer in regulasie 21 van die Kinderwet (38 van 2005) nie,” sê Unathi Booi, ’n woordvoerder van die WKOD.

‘Ek gee op – ek gaan toemaak’

“Ek gee als op. Ek gaan die borde afhaal. Ek gaan die dagsorg toemaak,” sê Cosmo.

“Die kinders na wie ek tans omsien, gaan by my bly – ek kan nie die ouers dwing om die kinders weg te vat nie. Ek sal daar wees vir hulle. As hulle (die ouers) besluit om alternatiewe reëlings te maak en die kinders elders te plaas, sal ek help. Die kinders wat hier is, bly hier. Ek gaan nie nog kinders inneem nie.”

Sy bevestig dat sy steeds betaling ontvang vir die vyf kinders (wie se ouderdomme wissel van vier maande tot vier jaar) na wie sy nog omsien.

“Ek help eintlik die ouers uit. Die een ma het twee kinders en betaal net een kind se koste per maand. Die ander ma is ’n enkelma en kan nie volprys betaal nie. Ek vra haar net halfprys. Ek het ’n lae tarief van R2 000 per kind per maand. Ek het kostes om te dek en kan dit nie gratis doen nie. Ek het dit gedoen om die kinders te help, want dis iets wat ek graag doen.”

Die WKOD het bevestig dat hulle tans oorweeg om regstappe te neem teen Miemie’s Liefies-dagsorg omdat dit glo ontwettig geopen is.

Booi het ook genoem die Kinderwet maak nie voorsiening vir “nanny daycare” nie en dat Miemie’s Liefies nie ingevolge dié wetgewing bedryf word nie.

Cosmo sluit af: “Ek weet dat ons onskuldig is en ek sal op my knieë voor die Here staan. Daardie kinders het nie by my seergekry nie. Ek sal tot die einde toe daarvoor baklei, al kry ek nooit weer my dagsorg terug nie, al kan ek nooit weer my droom voortlewe nie, maar onskuldig is onskuldig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article