Met verwysing na die brief van die Curran-familie antwoord ek graag (“Municipal standards dropping steadily”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 19 Junie).
Ek en my man woon nou net langer as twee jaar in Strand nadat ons afgetree het. Ons betaal ook munisipale tariewe soos elke ander huiseienaar in die land en kla nie daaroor nie, want ons kry baie vir dié geld.
Strand word pragtig skoon gehou en dit is ’n plesier om hier te woon en elke dag langs die see te kan stap. Die paar honde op die strand het ons nog nooit gepla nie, so ook nie motorfietse nie.
Ons kry alle dienste wat ons kan verwag van die munisipaliteit en aandag word gou aan foute gegee.
Ek wil werklik die Stad Kaapstad gelukwens met wat hy met beperkte geld verrig. Die belastingbetaler is nie verantwoordelik om vir branderryers storte te verskaf nie. Hulle kan by hul eie huis gaan stort.
Enigeen wat ander dorpe en stede in ons land besoek, sal besef dat ons hier baie het om te waardeer en dankbaar voor moet wees.




