Ek dink sommer net vanoggend daaraan dat ek daarvan sou hou om in ’n rondawel op iemand se groot stuk grond te kon woon. Ek sal my eie ding kan doen sonder om deur die geraas van die stadslewe gepla te word.
Jy sal ’n houtskoolstoof in die kombuis hê met genoeg hout om die vuur in die winterkoue aan die gang te hou. Natuurlik sal dit ’n rietdak ook hê, wat met elke windvlaag sy gesug en gesteun sal laat hoor.
Dié woonplek sal natuurlik groot bome om hê. Van hierdie groot bome het, soos hulle moes, hul blare met herfs afgegooi en dit het ’n digte blare-tapyt rondom die huis gelos.
Jy en die hond, wat van iewers af sy pad na jou gevind het, sal vroegoggend ’n ent gaan loop om die vars lug, ná ’n nag van aanhoudende reën, in te asem.
Daarna sal die dag sy gewone loop neem. Jy sal skoonmaak en kos maak en dan sal jy voor jou rekenaar gaan sit en aan ’n storie werk. Jy sal goeie tyd daaraan bestee, want daar is net mooi niks wat jou tyd kan steel nie.
Jou stories sal jou na ver plekke neem en jou avonture laat beleef waarin jy altyd die held is. Dit kan jou na een of ander eksotiese plek neem of jou terug in tyd laat reis. Die punt van jou pen het net mooi geen grense in nie.
Ek het vroegoggend die gordyne oopgetrek om die dag daarbuite te sien. Dit is nat en koud en jy hoor van paaie wat verspoel is.
Hier waar ek woon, is nie bome nie – net gebou op gebou. Ek ruik die sement in die somer wanneer die son bak en in die winter wanneer die reën die sementstene deurtrek het.
Feite is feite, maar ek kan dit wat ek sien en beleef, anders maak. Die mens se verbeelding is ’n kragtige wapen; ’n skrywer het meer mag as wat hy besef, en dit moet gebruik word.
Ek dink sommer net aan ’n ma wat haar huis wil mooimaak. Omstandighede het haar gekry waar sy vandag is, maar in haar diepste wese is daar ’n ander vrou wat roep om uit te kom.
Sy het soveel talent waarmee sy niks doen nie. Sy het haar man oor die grens gevolg met hoop in haar hart op ’n beter toekoms.
Twee kinders later is alles nog eintlik dieselfde, en eenvoudige werkrigtings word gevolg. Jy maak die huise van vreemdes skoon en nuwe vriendskappe word vasgemaak, en ná ’n dag se harde werk is jy weer op pad huis toe.
Die huis wat sy op hierdie dag skoongemaak het, is ’n huis waaroor sy maar net kan droom. Haar stoflap het oor al die mooi gevee en die groot tuin met al die verskillende plante en blomme kon nie misgekyk word nie.
Sy stap die laaste ent na haar eie beskeie woonplek en kyk na die veld om haar. Daar is tog blomme in haar wêreld, want sy sien hier en daar kleur tussen die gras en bossies.
Die natuur self het toegesien dat daar blomme is, en sy kruis die pad en pluk van die onbelangrike blomme wat ongevraagd in die veld groei. Sy buk en tel ’n plastiekhouer op, “Ja, jy sal doen,” dink sy.
Toe die dag eindig, het sy ook blomme vir haar gesin op die tafel in haar huis – haar tweevertrekhuis.
Sy dink aan haar lewe en wat sy vir haar kinders kan doen om dinge vir hul toekoms beter te maak.
Een ding het sy geleer, en dit is ’n beter lewe val nie uit die lug nie – jy moet gaan stil raak en dink wat die talent is wat jy gekry het; wat dit is wat in haar hand is.
Haar sukses is in haar eie hand.
Soos ’n groot boomstomp lê haar sukses binne-in haar. Dag vir dag gaan sy begin kap daaraan totdat sy vry is. Dit gaan tyd neem, dit weet sy, maar sy gaan leef met die wete dat sy die een is wat gaan besluit of sy haar sukses gaan sien.




