Inwoner Jeffrey Hendricks kla oor swak diens by die Macassar-gemeenskap-daghospitaal (CDC) waar sy mediese dokumente vir makulêre degenerasie twee keer verlore geraak het, wat gelei het tot die afkeur van sy aansoek om ongeskiktheidsvoordele. Foto: Pexels/Karolina Grabowska


Ek, Jeffrey Hendricks, ’n inwoner van Macassar, is nog nooit so behandel deur die personeel, leierskap en Sassa-dokter van die Macassar-gemeenskap-daghospitaal (CDC) nie.

In 2015 is makulêre degenerasie met ’n besoek aan Tygerberg-hospitaal by my gediagnoseer – ’n ongeneeslike siekte wat my sig stadig aftakel. Ek het in 2022 met retinale siftings en diabetiese oogtoetse begin. Die uitslae is op pienk vorms ingevul en na my lêer by die Macassar CDC gestuur vir veilige bewaring.

Toe ek die dokter versoek om vir permanente ongeskiktheidsvoordele aansoek te doen, was daar geen mediese dokumente van my oogtoetse in my lêer nie. My aansoek is op 23 Mei 2024 geweier omdat daar glo geen mediese bewyse vir my toestand was nie.

Ek het op 30 September 2024 weer na die dokter gegaan en sy kon slegs my ou Tygerberg-dokumente opspoor.

Sy het aanbeveel dat ek nie ’n motor bestuur nie. Dit sou my R450 gekos het om my eie kopieë van die dokumente te bekom.

Ek het op 30 Oktober 2024 ’n klagte by die daghospitaal ingedien. Kort daarna is ek ingelig dat ek op 16 en 23 Oktober 2024 ’n nuwe retinale sifting moes doen. Maar toe ek op 22 Januarie 2025 my lêer ondersoek, ontdek ek dat my dokumente vir die tweede keer weg was. Die dokter kon weer nie my ongeskiktheidsvoordele goedkeur nie.

Hy het net in my oë gekyk en gesê dat ek baie stories het en moet gaan werk.

Dit is uiters onprofessioneel en nalatig – hy het geen reg om ’n besluit sonder ’n deeglike mediese ondersoek te neem nie.

My ervaring is dat pasiënte by die Macassar CDC swak diens kry.

Ek het langer as 10 jaar as ’n versorger gewerk en menslikehulpbronnebestuur studeer.

My passie vir verpleging het my gemotiveer om die beste diens moontlik aan bejaardes en my gemeenskap te lewer.

Ek het selfs aangebied om gratis leêrordening te doen om die orde te herstel, maar my voorstel is heeltemal geïgnoreer.

J.J. Hendricks

Abulele Dyasi, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welsyn, reageer: 

“Die departement bevestig dat mnr. Hendricks se lêer en alle relevante dokumente, insluitend kliniese inligting, nie weg is nie. Pasiëntdokumente word beide fisiek en elektronies bewaar. Macassar CDC volg die toepaslike rekordbestuursprosedures.Ons ondersoek tans waarom Hendricks se dokumente nie in sy lêer was nie, ten spyte van die feit dat sy rekords elektronies opgeneem en gestoor is.

“Ons versoek pasiënte om afsprake te maak, die datums by die klerke te bevestig en ons in kennis te stel indien hulle wil herskeduleer.

“Die Sassa-dokter is nie ’n permanente werknemer van die departement nie, maar ’n agentskapspersoneellid wat namens Sassa verkry is. Sassa skeduleer pasiënte en verskaf ’n lys aan die daghospitaal twee tot drie dae voor die besoekdatum van die dokter, sodat lêers vooraf voorberei kan word. 

“Ons klerke is opgelei in mediese rekordbestuur en volg bepaalde beleide en riglyne. ’n Personeelprestasiebestuurstelsel is ingestel en prestasiebeoordelings word kwartaalliks gedoen. Pasiënte moet versoeke by die fasiliteit indien. Ons het nie ’n toegewyde mediese regsafdeling of mediese regsklerk by die fasiliteite nie.Ons neem terugvoer ernstig op en gebruik dit om ons sorg te verbeter.

“Indien daar enige verdere bekommernisse of voorstelle is, moedig ons pasiënte aan om ons deur die toepaslike kanale te kontak, sodat ons dit spoedig kan aanpak. Enigeen wat wel met die departement kontak wil maak, kan 0860 142 142 skakel, ’n “Please call me” na 079 769 1207 stuur, of via epos (service@westerncape.gov.za) uitreik. Alternatief, kan ’n afspraak om met die fasiliteitbestuurder te praat gemaak word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article