Ná aanleiding van die berig in verlede week se DistriksPos & Helderberg Gazette wil ek my mening ook lug – ek woon nie in Duckpond Village nie, maar het meer as 30 jaar naby Dampark oorkant die Hoërskool Strand gewoon, waar baie eende was.
Soos dit vir my lyk, volgens die foto, is dit nie kwaker-eendjies nie, maar gewone plaaseende soos dié wat ek uit my kinderdae onthou. Kwaker-eendjies is baie kleiner. Ek het lank van hulle uit die dam gered en gesond gemaak, hoofsaaklik weens beserings van vishoeke. Dit is dus volgens my nie ’n indringerspesie nie, dan sou van hulle bont gewees het, soos wel by Dampark gebeur het. Wat mnr. Huebsch beweer – dat die gekrulde stertvere bewys dit is basters – is ook onwaar. Dit is dier stertvere van mannetjies wat ’n krul het. As as hy enigiets geweet het van eende, sou hy dit geweet het!
Ook is dit die wyfies wat raas; die mannetjies maak net kwaakgeluide. As hulle dus van die lawaai ontslae wil raak, verwyder al die eende sonder ’n krul in hul stertvere! Dis jammer van die inwoners wil die eende weg hê; ek dink dis ’n voorreg om so in die natuur te kan woon.


