’n Messteekvoorval verlede week by ’n skool in Strand het alle aandag op die skool gevestig, maar die voorval is nie wat dit aanvanklik geblyk het te wees nie.

’n Messteekvoorval het verlede Maandag (30 Januarie) by die Strand Sekondêre Skool (SS) plaasgevind, en ’n ambulans moes ontbied word om iemand wat gesteek is, te behandel.

SS-skoolhoof Liezl Terhoeven het die voorval bevestig, maar genoem stories doen die ronde dat leerders van die skool, wat in Boundary-weg geleë is, by die voorval betrokke was.

“Ek wil graag enige verwarring uit die weg ruim met betrekking tot die gebeure by die skool verlede week. Die kinders wat betrokke was, is nie leerders van SS nie; dit was mense van buite wat die skoolterrein ingekom het om van ons leerders te kom seermaak,” sê Terhoeven.

“Die aanvallers het toegang tot die skool se perseel gekry en twee leerders gesteek. Die leerders is ná die voorval na ’n hospitaal geneem. Die WKOD is besig om van die veiligheidskwessies by die skool te bespreek,” sê Unathi Booi van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).

Terhoeven sê die skool het alles in sy vermoë gedoen om die veiligheid van elke leerder te verseker. “Die leerders se veiligheid is ons eerste prioriteit. Die polisie is dadelik ontbied en Safer Schools is oor die voorval in kennis gestel. Die ouers van die betrokke leerders is in kennis gestel oor die gebeure. Noodhulp is toegedien terwyl ons op die ambulans gewag het.”

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, sê die voorval hou waarskynlik verband met voorvalle wat verlede jaar by die skool afgespeel het.

“Geen klagte is aangemeld nie en die skool se beheerliggaam hanteer die voorval,” sê Beukes.

Niklaas Thysen, ‘n woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), bevestig ’n kliniese berading-sielkundige het die skool op versoek van die Strand-GPF besoek. “Al die betrokke leerders wat die voorval aanskou het, het berading ontvang om die traumatiese ervaring as gevolg van die misdaad en geweld wat plaasgevind het, te verwerk.”

Hy sê die betrokke leerders is toegerus met tegnieke en metodes om traumatiese ervarings te hanteer.

“ ’n Volhoubare veiligheidsplan sal deur die polisie, die GPF, buurtwagte en ons veiligheidsmaatskappy in werking gestel word. Die plan sal die veiligheid van opvoeders en leerders voorop stel sodat opvoeding en onderrig kan plaasvind en die skool ’n veilige omgewing vir alle leerders kan wees,” voeg Thysen by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article