Die plaaslike gemeenskapsorganisasie Macassar Our Pride het onlangs na twee plaaslike hoërskole uitgereik.

Tydens hierdie geleenthede het die span Bybelboekies aan die leerders uitgedeel.

Gepaardgaande hiermee het verskeie sprekers die leerders oor die belangrikheid van naskoolse opleiding toegespreek.

By Hoërskool Zandvliet het Farrol Abrahams leerders gemaan om alles in hul vermoë te doen om ná matriek verder te gaan studeer. Met verwysing na onlangse navorsing wat die gemiddelde inkomste van Suid-Afrikaners toon, gebaseer op kwalifikasies, het hy aan die leerders verduidelik dat die finansiële voordeel soveel groter is as jy ’n graad agter jou naam het.

Die leerders was in ekstase met die optrede van die bekende musikant Manuel Jardine, wat hulle vermaak het met ’n item op sy saksofoon. Jardine het aan die leerders vertel dat hy ná matriek sewe jaar gewerk het voordat hy sy droom kon verwesenlik om ’n suksesvolle professionele musikant te word.

Abrahams en Jardine is oudleerders van die Hoërskool Zandvliet en is deesdae suksesvolle sakemanne. Abrahams is ’n senior finansiële konsultant in die bankwese en Jardine is die uitvoerende hoof van die Manuel Jardine Arts Foundation.

Die oud-onderwyser Julian Keet en Stuart Afrika, albei lede van Macassar Our Pride, het die leerders van Hoërskool Macassar toegespreek. Afrika het ’n pleidooi aan leerders gerig om nié op te hou droom oor hul toekoms nie, en hul drome na te jaag.

“Al wat dit kos om jou droom te verwesenlik, is genoegsame deursettingsvermoë en uiterse dissipline,” het Afrika gesê.

Die boekie Brood vir die lewe word elke jaar deur Bennie Engelbrecht, ’n Noord-Kaapse sakeman, vir verspreiding aan Macassar Our Pride verskaf.

Clive Jefthas, voorsitter van Macassar Our Pride, het sy dank en waardering teenoor die twee skole betuig vir die geleentheid om na die leerders te kon uitreik.

Die span is met opregte warmte by albei skole ontvang.

Jefthas het ook sy dank uitgespreek teenoor al die rolspelers wat hierdie uitreiking moontlik gemaak het.

“Dankie, Farrol Abrahams en Manuel Jardine, vir jul bereidwilligheid om jul stories met die leerders te deel. Dankie ook aan oom Bennie Engelbrecht, wat deur sy landwye sendingwerk ook na Macassar uitgereik het.”

Jefthas het bygevoeg dat Macassar Our Pride tans besig is met voorbereiding om graad 12-leerders by te staan met aansoeke vir verdere studies.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article