’n Splinternuwe vasvraprogram vir hoërskoolleerders begin in September.

Die Superskool sal op die Afrikaanse-leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word. Skole en leerders wat aan dié program wil deelneem, kan nou inskryf.

Op Die Superskool sal hoërskole van regoor Suid-Afrika dit teen mekaar uitspook om as die land se superskool gekroon te word.

Elke skool se span sal uit drie van dié skool se blinkste leerders bestaan en die span sal deur een van hul onderwysers bygestaan word.

Die Superskool sal deur die gewilde Afrikaanse sanger en kletsrymer Snotkop aangebied word. Huisgenoot, Suid-Afrika se grootste tydskrif, is Die Superskool se amptelike mediavennoot.

Dit sal uit 15 halfuur-episodes bestaan wat vanaf September uitgesaai word.

In dié tydperk sal die skoolspanne se geheue, konsentrasievermoë en kennis van taal, wiskunde, algemene kennis en popkultuur op die proef gestel word.

Die wenspan slaan ’n kwartmiljoen rand vir hul hoërskool los. Die span wat die tweede plek behaal, wen R100 000 terwyl die skool wat derde kom, R50 000 ontvang.

Om in te skryf moet hoërskole ’n kort video maak waarin hulle vertel van hul skool, die drie leerders wat hulle wil hê moet hulle op Die Superskool verteenwoordig en die onderwyser wat die skool se span gaan ondersteun. Inskrywings moet voor Maandag 19 Junie na info@viatv.co.za gestuur word.

Die topinskrywings gaan deur na ’n toetsronde voor hulle vir die program kan kwalifiseer. Alle Suid-Afrikaanse hoërskole word genooi om vir Die Superskool in te skryf, maar deelnemers moet Afrikaans kan verstaan om deel te neem.

Deelnemers moet tussen Saterdag 8 en Saterdag 15 Julie beskikbaar wees vir opnames. Verblyf en vervoer sal voorsien word aan leerders wat nie woon waar die program verfilm word nie.

Vir meer besonderhede, kontak Robert Kaden by robert.kaden@media24.com of besoek www.viatv.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article