Luna Paige neem gehore op ‘n reis met haar musiekproduksie Die Reisigers. Foto: Hannie du Plessis

Die sangeres Luna Paige bring op Sondag 23 November om 16:00 haar nuwe musiekproduksie, Die Reisigers, na The Drama Factory in Strand.

Paige sing oor die “groot reis” en die immer ontwykende eindbestemming. Sy verken ruimtes waar beweging, stilte van gees, selfliefde en aanvaarding harmonie bring en stel die gehoor bekend aan die musiek wat sy tydens haar Suid-Afrikaanse én Europese reise geskryf en by die huis getoonset het.

As anonieme voyeur het sy soms wel in gesprek getree en saam gewonder oor die groot verskille, maar – belangriker – oor die groot ooreenkomste wat alle reisigers op hierdie wonderbaarlike planeet aan mekaar bind.

Met die jaar amper op sy kop het Paige besluit om musiekliefhebbers een laaste geleentheid te bied om Die Reisigers te sien.

Ná die vertoning sal sy heelwat tyd in die ateljee deurbring.

 Kaartjies kos R200 elk en kan aanlyn by www.dramafactory.co.za gekoop word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article