’n Man met ’n goue hart . . .
Dis hoe die meeste mense vir Shakier Losper (22) by sy begrafnis die afgelope Saterdag (9 April) onthou het.
Losper is Sondag 27 Maart omstreeks 04:30 met ’n mes in Fredericksstraat gesteek en met sy aankoms by Helderberg-hospitaal is hy dood verklaar.
Twee uit drie verdagtes wat aanvanklik vir Losper se moord in hegtenis geneem is, is gearresteer (“Verdagtes vry oor ‘te min bewyse’,” DistriksPos, Donderdag 7 April).
Losper, of beter bekend as Bakkies, se begrafnisdiens het in die Bethesda-kerk in Broadlandspark, Strand, plaasgevind.
’n Groot aantal vriende en familie van Losper het vir die diens opgedaag – soveel so dat ekstra stoele in die saal uitgepak moes word.
Pastoor Colin van Wyk, wat die diens behartig het, het op tyd gefokus en hoe min tyd ’n mens werklik het. “Tyd is soos lugtyd op jou selfoon. As jou lugtyd op is, dan kan jy nie bel of WhatsApp nie. Dis dieselfde as jou tyd op die aarde verby is,” het Van Wyk beklemtoon.
Hy het ook gefokus op bendes en die impak wat hulle op gemeenskappe het.
“Ek wonder waar is Shakier se vriende nou? Hy lê alleen in die kis. Geen vriend is saam hom in die kis nie,” sê Van Wyk.
Hy het voor dié stelling verwys na wanneer ’n mens jou lewe op die spel plaas om vir jou vriende iets te bewys.
“Van julle jongmense vandag hier besef nie hoe waardevol en hoe kosbaar is ’n mens se lewe nie.”
Na afloop van die diens het elkeen ’n beurt gekry om vir oulaas aan Losper eer te betoon toe die bokant van sy kis oopgemaak is met net sy gesig wat sigbaar was. Elkeen kon hom vir oulaas groet voor die familie en vriende na die Rusthof-begraafplaas beweeg het waar Losper ter ruste gelê is.
Adjudant-offisier Nico Beukes, woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig twee verdagtes aangekeer is vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en moord. Die moordklag het die saak weer op die rol gesit.


