’n Gedenkdiens is ter viering van Bongeka Bidi se lewe deur die Stad Kaapstad Maandagmiddag (15 Januarie) in die Strand-stadsaal gehou. Bidi se beste vriendin, Buziswe Ngqweleka (ver regs) en ’n naasbestaande het haar vier kinders, Lithemba, Luniko, Luphiwo en Likuwe ondersteun terwyl die oudste ’n kers ter nagedagtenis van hul ma aangesteek het. Sy word oorleef deur haar kinders en pa, Ndodana Nomatyindyo.Foto: Jamey Gordon


Die twee verdagtes wat aangekla is van die moord op Bongeka Bidi het hulle Maandagoggend (15 Januarie) weer in die beskuldigdebank van die Strand-landdroshof bevind.

Die mans, 26 en 46, se hofverskyning volg ná hul inhegtenisneming binne 24 uur ná die skietvoorval, wat verlede Maandagoggend (8 Januarie) in die parkeergebied oorkant die munisipale gebou in Strand afgespeel het. Die raaiselagtige voorval het die lewe van Bidi, die weduwee van ’n taxi-eienaar wat verlede jaar in ’n vermeende taxigeweld-verwante skietmoord gesterf het, geëis (“Weduwee afgemaai,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 10 Januarie).

Die 41-jarige ma van vier kinders, onder wie ’n tweeling, is dood nadat ’n koeëlreën op haar silwer Toyota Fortuner wat by die munisipale gebou op die hoek van Faganstraat en Hoofweg geparkeer was, afgevuur is.

Volgens die polisie het die voorval kort ná 08:00 in die sentrale sakekern plaasgevind. Die voorval, wat deur owerhede as nog ’n moontlike taxigeweld verwante aanval bestempel word en ander wat dit as ’n misdaad beskou wat glo spruit uit ’n berugte twis oor die taxi-bedryf, het skokgolwe deur die breër gemeenskap gestuur en handel in die gebied ’n dag lank tot stilstand geruk.

Die oorledene, wat in die Kaapstad-metro se departement omgewingsgesondheid gewerk het, is glo kort nadat sy in die parkeerplek stilgehou het deur ’n gewapende verdagte geteiken.

Bidi was ten tyde van die aanval alleen in die voertuig toe die verdagte die motor te voet genader het. Hy het na bewering twee vuurwapens uitgehaal en verskeie skote deur die venster aan die bestuurder se kant geskiet. Ses 9-mm-patroondoppies is op die toneel gevind. Bidi is noodlottig in die bolyf en kop gewond. Die verdagte het na bewering in die rigting van die busstop van die toneel weggeloop voordat hy in ’n wit Opel Astra met ’n CA-registrasienommer gevlug het.

Die slagoffer, wat glo haar man se taxi-onderneming in die Oos-Kaap geërf het en dit as eienaar verbonde aan die taxivereniging Codeta Grabouw voortgesit het, is op die toneel dood.

Twee verdagtes is Dinsdag (9 Januarie) in die vroeë oggendure danksy puik polisieondersoekwerk by ’n huis in Khayelitsha vasgetrek. Die registrasienommer van die wegkom-voertuig het hulle tot by ’n huis in Khayelitsha gelei, waar die geregistreerde eienaar verduidelik het sy het die voertuig aan ’n man verkoop, maar hy het nog nie die voertuig in sy naam geregistreer nie. Verdere inligting het die polisie na ’n ander huis in Khayelitsha gelei, waar die twee verdagtes net ná 04:00 in hegtenis geneem is.

Petisie teen moordverdagtes se moontlike borgtog

Die 47-jarige verdagte, wat glo die wegkomvoertuig bestuur het, het sy betrokkenheid by die skietvoorval in ondervraging bekend gemaak.

Die twee medepligtiges het verlede Woensdag (10 Januarie) die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn. Die saak is met hul mees onlangse verskyning Maandagoggend vir ’n formele borgtog­aan­soek tot Donderdag 25 Januarie uitgestel.

Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, het in die lig van die voorval hul ondersteuning aan die slagoffer se familie beloof en ’n petisie in teenstand teen die verdagtes se borgtog begin. Volgens Motasi het hulle met die gewaardeerde ondersteuning van die Strand-, Chris Nissen-park- en Sir Lowry’s Pass-gemeenskappe 1 300 handtekeninge tot dusver gewerf. “Ons ken Bongeka Bidi nie persoonlik nie, maar slegs as gevolg van die wrede manier hoe sy haar lewe ontneem is. Ons is diep deur die skietmoord geraak en voel dit is ons plig om aksie te neem,” verduidelik Motasi.

’n Vrou duisend gevier en onthou

Die Stad Kaapstad het Maandagmiddag ’n gedenkdiens ter herinnering van Bidi in die Strand-stadsaal in Piet Retiefstraat gehou. Rouklaers is deur die programdirekteur Nigel du Preez verwelkom en die openingslesings is deur die ouderling Mcebisi Ngqaqu behartig.

Die subraad 8-woordvoerder, Albertus de Beer, het Bidi vereer as ’n geliefde ma, naasbestaande en lid van die Stad se groter familie. “Mag haar familie, die gemeenskap en kollegas geen hartseer ken nie. Aan haar kinders – julle het ’n pragtige ma gehad wat ’n vegter was, wat by die kantoor ingestap het en haar gunsteling R&B-treffers voorgedra het, sou jika en die gemoed van almal aanwesig lig,” het De Beer gedeel.

“Ek glo werklik dat die burgemeester, die uitvoerende bestuur en werkers jul familie sal bly vir so lank as wat julle hulle nodig het en vir so lank as wat hulle haar nagedagtenis lewend kan hou. Bongeka is nie meer met ons nie, maar ons moet glo sy is op ’n beter plek en waak oor haar kinders en familie. Soos ons sê: Hamba kahle.”

’n Spesiale boodskap is deur Ruberto Isaacs en prof. Vera Scott gebring.

Isaacs het Bongeka as ’n kleurvolle, sterk mens beskryf, wie se traumatiese verlies almal ter ondersteuning van mekaar saamgebring het. Hy het rouklaers aangespoor om te vergeet van die onbenullighede en bestek op te neem van hul lewe.

Scott, die gebiedsbestuurder vir Area Oos, het op haar beurt gesê: “Bongeka het mense nader aan haar gelok. Kollegas het gou familie geword en in ’n baie werklike sin het haar uitgebreide familie die Strand-omgewingsgesondheidskantoor en baie Stad-amptenare ingesluit. Ons betreur nie net die verlies van ’n kollega nie, maar ’n familielid. Bongeka was nie alleen in die wêreld nie, selfs nie ná haar geliefde man se dood nie, want vyf dae per week was sy saam met mense wat haar gerespekteer het, liefgehad het en die beste in haar na vore gebring het, saam met haar gelag het of oor trane getuig het. Soms in ’n gesin is daar lede wat moeilik is om lief te hê. Maar, dit was nie die geval met Bongeka nie. Ferm en sterk, ja. Maar sy kon ons in ’n liefdevolle kring om haar intrek. Sy het ná die werksdag teruggekeer na haar geliefde kinders. Ons het julle geken omdat jul ma julle so baie liefgehad het. Die wete van hoe lief jul ma vir julle was, sal jul krag wees. Ons gebed is dat al die planne wat jul ouers vir julle gehad het, sal realiseer.

“Nie een van ons kon haar dood verhoed het nie, al wens ons ons kon. Ons veroordeel dit as ’n lafhartige moord. Bongeka het haar lewe verloor, maar nie haar waardigheid, ons liefde of ons respek nie. Hierin is sy sterker as haar aanvallers en hul geweld. Ons treur, maar ons is nie sonder hoop nie.”

Gehegte kollegas Claude Byilingiro en Luvo Mankqu sowel as Bidi se beste vriendin, Buziswe Ngqweleka, het huldeblyke gebring oor die spesiale vriendskap wat hulle met haar gedeel het en die soete herinneringe wat hulle koester. Mankqu het ook hartroerende geskrewe gedeeltes uit haar kinders se pen gedeel.

Bidi se liggaam sal, nadat dit vandag (Woensdag 17 Januarie) van die lykshuis teruggekry is en rituele seremonies uitgevoer is, Saterdag (20 Januarie) na die Oos-Kaap vervoer word waar sy langs haar man begrawe sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article