Die man wat daagliks in die reën, die koue en in die son in Strand en Somerset-Wes penne verkoop en sy lewe Maandag 18 September op ’n tragiese manier in Hoofweg in Strand verloor het, is die afgelope naweek finaal geroep.
’n Roudiens vir Cornelius Christian Bissolati (50), beter bekend as “Oom Pen”, is Sondag (24 September) in die AGS kerk Helderberg in Pinksterpark gehou. Die geleentheid is ten volle geborg deur die kerk sowel as Blue Crane-begrafnisdienste.
Bissolati word deur baie as ’n sagte en ’n omgee-mens onthou.
Sy dogter, Ansie Bissolati (27), vir wie hy altyd “Muis” genoem het, beskryf haar pa as ’n ferm mens wat tog ’n sagte plek gehad het vir haar en sy tweejarige kleinseun Lohan.
“My pa het sy werk ’n paar jaar terug verloor. Hy het toe penne begin verkoop om te oorleef. Hy was altyd bereid om te help, al het hy min gehad. Hy het gedoen wat hy moes doen om te oorleef.”
Bissolati het sy lewe verloor toe een van vier voertuie wat in ’n botsing op die hoek van Hoofweg en Broadway-boulevard betrokke was, in hom vasgery het (“Botsing eis ‘Oom Pen’,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 20 September 2023).
’n Saak van strafbare manslag word ná die voorval deur die Strand-polisie ondersoek.
Ten tyde van die skrywe van die eerste berig kon nog nie vasgestel word presies hoe die ongeluk gebeur het nie. Luidens ’n polisieverklaring was vier voertuie in die botsing betrokke – ’n blou Daihatsu Sirion, ’n wit Ford Ranger, ’n swart Volkswagen Polo asook ’n silwer Volkswagen Jetta.
Toe die ongeluk gebeur het, het Conan Doyle in sy wit Ford Ranger by die robot in Broadway-boulevard gesit en volgens hom het ’n blou Daihatsu Sirion uit die bloute oor die sypaadjie gejaag gekom, eers vir Bissolati getref en toe teen die regterkant van sy bakkie gebots.
“Ek wou by die verkeerslig regs draai toe die ongeluk ten aanskoue van my dogter wat saam met my in die voertuig was, afgespeel het,” sê Doyle.
’n Weldoener, Chelsea-Lee Smith, het Woensdagmiddag (20 September), twee dae ná die voorval, besluit om ’n kruis ter ere van Bissolati te maak.
Die kruis met pragtige proteas is aan ’n paal vasgesit naby die plek waar “Oom Pen” daagliks penne verkoop het.
“Ons moet herinner word dit maak nie saak wie ons is nie, ons kan ’n verskil maak in die wêreld, al is dit net met een pen op ’n slag,” sê Smith.
Bissolati se dogter het die bedroefde familie se dankbaarheid uitgespreek Blue Crane wat die dokumentasie, begrafnisbrief vir die roudiens en verassing gratis behartig het. Sy het ook die kerk bedank vir kerkgebou wat tot hul beskikking gestel is vir die diens.



