Kwesbare begunstigde sit met hande in hare ná Sassa versuim om broodnodige toelaag uit te betaal

Wayne Gillion met sy bankstate wat wys dat hy in Desember laas deur Sassa betaal is. Foto: Rick Marais


’n Man van Sercorpark, Strand, is op moedverloor se vlakte nadat hy al twee maande wag op ’n toelaag van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en dringend die geld benodig om te oorleef.

Wayne Gillion (52), wat ’n toelaag van Sassa ontvang omdat hy nie kan werk nie – nadat hy jare gelede in ’n ongeluk betrokke was en sy linkervoet beseer het – het in Desember laas geld van Sassa af ontvang. Hy sê hy en sy vriendin se koskaste is leeg en hulle is op hul knieë en vra die agentskap om te help.

Jessica Simons, Gillion se vriendin saam met wie hy woon, het aan DistriksPos & Helderberg Gazette bankstate van Gillion gewys en daarop kan ’n mens sien hy het in Desember laas ’n betaling van Sassa ontvang.

“Ons het Sassa telkemale probeer bel, maar kom nie deur nie. Ons het verlede week by ’n Sassa-beampte uitgekom en hulle sê toe uitbetalings is wel aan Wayne gedoen, maar niks wys in sy rekening nie en hy het geen debietorders wat enigiets van sy rekening aftrek nie. Hy is nooit ’n toelaag vir Januarie en Februarie uitbetaal nie,” bevestig Simons. Shivani Wahab, ’n verteenwoordiger van Sassa, het bevestig Gillion het aansoek gedoen vir ’n tydelike ongeskiktheidstoelaag, wat tot Desember verlede jaar aan hom toegestaan is.

“Die uitkoms van die ontvanger se aansoek is per brief aan hom verskaf, met ’n uiteensetting van die tydperk van betalings. Daar is bepalings vir die begunstigde om te appelleer indien hy ontevrede is met die uitslag soos op die brief vermeld,” voeg Wahab by.

Simons het bevestig hulle werk nou daaraan om Gillion se ongeskiktheidsdokumente by die dokter te kry.

“Hy het baie pyn. Partykeer kry hy skietpyne deur sy been wat beseer is – van sy rug af – want hulle moes ná die ongeluk spiere vir sy been daar uitsny.

“Hy kan nie werk nie en ons is op ons laaste geld nou. Ons krag is op nul en ons koskaste is leeg.

“Ons bid vir ’n wonderwerk en dat ons die uitstaande toelae sal ontvang,” sê Simons.

Die besering aan Gillion se linkervoet en die rede waarom hy ’n toelaag by Sassa ontvang. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article