Die krieketspanne van Hoërskool Strand het die afgelope naweek teen die topskool van die noorde­like voorstede, Hoërskool Stellenberg, kragte gemeet en gemengde welslae behaal.

Die o.19A-span is op ’n sopnat en bedrieglike kolf­blad ingestuur en kon slegs 61 lopies aange­teken.

Die span se boulers het met mening teruggeslaan en het Stellenberg baie laat sukkel, veral Kian Venter (3/20) het met die bal geskitter. Stellenberg het uiteindelik 62/5 aangeteken en die wedstryd sodoende met vyf paaltjies gewen.

Die feit dat die Arende die loot verloor het en ingestuur is om te kolf, was beslis bepalend in die uitslag van die wedstryd.

Die o.15A-span het die sterk span van Stellenberg in ’n opwindende wedstryd met vier lopies geklop. HS, veral danksy Donovan Brooks se 35 lopies, het 93 lopies aangeteken. Shu-Aib Wanza met boulsyfers van 5/33 en Guillaume Uys met 5/47 het Stellenberg tot 89 lopies beperk.

Die o.14A-span het Donderdag 14 Februarie met 90 lopies teen Somerset College vasgeval. Somerset College het ’n baie goeie 158 lopies aangeteken. Leighton Fisher het uitstekend geboul en 3/22 platgetrek. Die Arende is daarna vir 68 lopies uitgeboul.

In ’n week van gemengde welslae op die krieketfront het die eerste krieketspan van Hoërskool Strand vir die heel eerste keer daarin geslaag om sy Somerset College-teenstanders te klop.

Die Arende het Saterdag 9 Februarie eerste gekolf en ’n telling van 143 lopies aangeteken.

Die kaptein Liam Martin het weereens bewys waarom hy in die SA plattelandspan opgeneem is deur 45 lopies by sy span se totaal te voeg. Hy is goed deur Amandt le Roux (41) bygestaan wat vir die eerste keer as aanvangs­kolwer, ’n baie gespesialiseerde posisie, diens gedoen het.

Somerset College se gedugte kolwers is daarna tot 86 lopies beperk. Venter (2/4) en Guillaume Janssen (2/11) het die grootste skade aangerig. Dit moet egter beklemtoon word dat al die boulers die druk op College geplaas het om die span tot ’n beskeie totaal te beperk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article