Vyf informele wonings is vandag (20 Desember) in ’n brand tussen 22 Tiende Straat en 21 Elfde Straat in Rusthof, Strand, vernietig. Die brand het drie families dakloos gelaat.
Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, is die brand omstreeks 11:55 aangemeld. Brandweerspanne van Strand, Sir Lowry’s Pass en Macassar was op die toneel met drie brandweerwaens, ’n watertenkwa en 17 brandbestryders. Die brand is teen 13:20 onder beheer gebring.
“Een brandweerman het ’n ligte brandwond aan sy linkerhand opgedoen,” het Carelse gesê.
Hy het verder bevestig dat drie informele strukture heeltemal vernietig is, terwyl twee ander beskadig is. Hy kon nie die oorsaak van die brand bevestig nie, aangesien dit steeds onbekend is.
“Twaalf volwassenes en 15 minderjariges is deur die brand ontheem,” het hy bygevoeg.
Charlene Sauls (40), wat saam met haar dogter en kleinkinders in een van die strukture gewoon het, het beskryf hoe haar slaapkamer heeltemal deur die brand vernietig is. Sy beweer die brand is deur ’n ander inwoner wat koper gesmelt veroorsaak toe die smeltery sonder toesig gelaat is.
“Ek weet nog nie hoe om te voel nie. Ek kon nie eens my ma, wat nog nie ’n jaar oorlede is nie, se klere red nie,” het sy gesê.
Nellie van Niekerk (63), wat al vyf jaar saam met haar seun, dogter en kleinkinders in haar huis woon, beskryf die brand as verwoestend.
“Dis die tweede keer dat ek alles verloor en van voor af moet begin,” het Van Niekerk gesê. Haar dogter, Agnes, het bygevoeg: “Die kinders is in trane omdat hulle Kersfeesklere ook uitgebrand het.”
Charlene Sauls (40) staan verslae waar haar slaapkamer eens was, omring deur die verwoesting.
Barend J. Williams
Susara van der Rheede (37) was by die werk toe sy ’n oproep ontvang dat haar huis aan die brand is. Sy sê dat haar kinders aan die slaap was toe die vlamme uitgebreek het, maar hulle is gelukkig deur die rumoer wakker gemaak en kon betyds wegkom.
“My hele lewe was in daardie huis, insluitend my ma se as wat ek ook in die brand verloor het,” het Van Der Rheede met trane in haar oë gesê.
Sy het verder beweer dat die bure gereeld koper smelt. “Hulle brand dit enige tyd van die dag, en soms is die rook so erg dat ons nie eers kan slaap nie, wat nog te sê asemhaal.”
Die families probeer egter positief bly te midde van die verwoesting. “Dis maar net aardse goed. Miskien het die Here ’n beter plan vir ons,” het Sauls gesê.
Kaapstad se brandweer het vinnig opgetree om die vlamme te blus en verdere skade te voorkom.
Barend J. Williams
Kaapstad se brandweer het die brand tussen 22 Tiende Straat en 21 Elfde Straat geblus, maar nie voordat vyf informele wonings verwoes is nie.
Barend J Williams




