Macassar se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het vandeesweek hul misnoeë uitgespreek nadat ’n polisieman van die plaaslike polisiekantoot Donderdag 29 Desember in hegtenis geneem is weens sy vermeende betrokkenheid by ’n ontvoering en moord in Khayelitsha.
Adjudant-offiser Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het bevestig ’n 32-jarige konstabel van die Macassar-polisiekantoor, wat sewe jaar diens in die polisie het, is een van drie verdagtes wat in hegtenis geneem is. ’n Gesamentlike optrede deur die polisie se provinsiale taakspan vir ontvoering, die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) asook ’n gyselaaronderhandelingspan, het daartoe gelei dat die drie verdagtes van onderskeidelik 30, 32 en 37 jaar, in verband met die dood van ’n 48-jarige-man wie se lyk Maandag 26 Desember in Khayelitsha ontdek is, in hegtenis geneem is. Die vonds is nou deel van ’n ontvoering-en-afdreigingsaak.
Lieutenant-kolonel Malcolm Pojie, nog ’n polisiewoordvoerder, het sê die oorledene se 52-jarige broer is twee dae later (Woensdag 28 Desember) in ’n ernstige toestand gevind. “Die slagoffer is na die Khayelitsha-distrikshospitaal geneem,” het Pojie bygeboeg.
Hy het bevestig die voorlopige ondersoek dui daarop dat die broers Donderdag 22 Desember in Mowbray ontvoer is. “Die verdagtes het toe later die (broers se) families gekontak en geld geëis. Die familie is gewaarsku om nie die polisie te bel nie, omdat dit hul geliefdes in gevaar sou stel. “Die polisie het toe dadelik die taakspan geaktiveer om na die broers te soek,” het Pojie gesê.
Die Wes-Kaapse polisiehoof, Thembesile Patekile, het die taakspanne, vir hul puik ondersoekwerk, wat daartoe gelei het dat die verdagtes vasgekeer is, geprys.
Pojie het bevestig die 32-jarige-konstabel van die Macassar-polisie het Dinsdag 3 Januarie in die Wynberg-landdroshof verskyn. Die konstabel het weer Dinsdag 10 Januarie vlugtig verskyn voordat die saak tot Dinsdag 7 Februarie uitgestel is. “Hy sal dan vir die moordsaak verskyn en sal tot sy volgende hofverskyning in aanhouding bly,” het Pojie verduidelik.
Rhoda-Ann Bazier, die waarnemende voorsitter van die Macassar-GPF, was geskok oor die nuus dat ’n polisieman, wat ’n eed om die gemeenskap te beskerm afgelê het, na bewering by die saak betrokke was. “Dis belangrik dat die polisie ’n interne dryfveer het om korrupsie uit te wis. Gemeenskappe moet ook saamstaan om korrupte polisiebeamptes by polisiekantore uit te werp. Ons is baie ontevrede met die slegte appels wat die res van die polisie laat sleg lyk,” het Bazier gesê.
Sy meen verder dis sleg is dat nog ’n polisieman van dié kantoor in hegtenis geneem is, want die Macassar-polisiekantoor het reeds te min hulpbronne en polisiebeamptes om al die misdaad te takel. “Daar word meer gekyk na high priority polisiekantore, waarvan Macassar nie een is nie. Misdade word nie aangemeld nie, en misdaadsyfers bepaal hoeveel voertuie en hulpbronne die kantoor ontvang.”



