’n Bekende van Macassar het geskiedenis gemaak toe hy in die 97ste bestaan van die Verenigde Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) se Jeugbrigade die hoogste amp van kolonelkommandant as ’n dienende kolonel ontvang het.
Kolonel James Flowers het ná sowat 30 jaar die tuig neergelê en Japie Konstabel van die VGK Macassar is Sondag (3 Julie) as kolonel ingehuldig.
Die seremonie is voorafgegaan deur die parade van honderde brigadelede van verskeie streke, wat deur dié gemeenskap se strate gemarsjeer het. Verskeie sprekers het die nuutverkose kolonel met sy besonderse prestasie gelukgewens.
Flowers, wat die inhuldiging waargeneem het, het sy opvolger gemaan om voort te gaan met die goeie werk. “Bly nederig, versigtig en opreg. Leef in vrede met almal,” het Flowers gesê.
Konstabel se vrou, Eleanor, en sy seun, James, het die rangtekens aan hom oorhandig. Clive Jefthas, leier van die plaaslike organisasie Macassar Our Pride, het gelukwensings namens die Macassar-gemeenskap oorgedra. “Ken Hom in alles wat jy doen, en Hy sal jou sterk maak,” het Jefthas gesê.
Dr. Charles Flaendorp, leraar van die plaaslike gemeente, het bygevoeg Konstabel het reeds vroeg in sy lewe gewys hy beskik oor sterk leierseienskappe en het ’n besonderse liefde vir die werk van die Here.
Die nuutverkose kolonel het die gehoor in ’n emosiebelaaide toespraak toegespreek. “Ek is nie deur myself of mense verkies nie – die Here kies self sy leiers. Nou is die tyd om die brigade te bou,” het hy gemaan met verwysing na die brigade se tema, Refresh, Renew, Refocus.
Die 52-jarige, wat hulde aan sy geliefde eggenoot van 27 jaar gebring het, is slegs die vyfde wat hierdie amp in die 97ste bestaansjaar van die brigade sal beklee. Die brigade is in Maart 1925 gestig.
Wat merkwaardig is, is dat Konstabel nié ’n lid van die brigade se hoofraad was nie, maar is by die nasionale konferensie, wat in April in Kuilsrivier plaasgevind het, as ’n afgevaardigde van die Macassar-afdeling in die amp verkies.
Benewens sy betrokkenheid in die kerk is dié dinamiese leier betrokke op vele terreine in Macassar, sy geliefde gemeenskap. As voormalige kranige rugbyspeler is hy ook sameroeper en afrigter van Macassar “Fun & Fitness”, ’n groep wat daagliks fiksheid-sessies vir plaaslike vroue aanbied. Hy dien ook as sekretaris en afrigter van die Macassar-rugbyklub se juniors.
Verder is hy ook ’n stigterslid van Macassar Our Pride, wat hom vir die opheffing van die gemeenskap beywer, met spesiale fokus op die jeug en bejaardes.
Konstabel is in Worcester gebore en het op ’n wynlandgoed buite die dorp grootgeword. As enkelouer moes sy moeder alles in haar vermoë doen om hom en sy sibbe ’n ordentlike skoolopleiding te verseker. Konstabel, wat destyds ook in die sorg van sy ouer suster was, het na Macassar verhuis en in 1988 aan die Hoërskool Macassar gematrikuleer. In sy tuisdorp het hy dadelik bekendheid verwerf as ’n kranige rugbyspeler en vir die Westelike Provinsie-skolespan asook die Macassar-rugbyklub se senior span uitgedraf.
Hy moes weens finansiële omstandighede ná skool begin werk, en het heelparty sake-diplomas deur sy werkgewers behaal. In hierdie tyd het hy ’n passie vir die sakewêreld ontwikkel en hy is as bestuurder aangestel van die onderneming waar hy werksaam was. Ná sowat 14 jaar in die bedryf het Konstabel sy eie onderneming gestig en hy is deesdae die trotse eienaar van ’n vervoermaatskappy.
Konstabel en sy vrou het in 2005 besluit om die brigade in hul gemeente op die been te bring nadat die kerkraad oorweeg het om dit te ontbind omdat daar nie genoeg belangstelling en groei was nie. In samewerking met kaptein Netta Marcus het die VGK-brigade egter stelselmatig die mas opgekom en is Konstabel as kaptein aangewys. As uitmuntende dril-instrukteur en danksy sy passie vir jongmense het die plaaslike kompanjie gou ’n hele aantal trofeë gewen.
Onder leiding van Konstabel en Marcus het die brigade enorme groei getoon en gereeld trofeë in streekkompetisies verwerf. Aangesien Konstabel reeds van ’n jong ouderdom ’n diepe verstaan van die organisasie se werksaamhede gehad het, is hy onder leiding van verskeie mentors spoedig in verskeie offisiersposisies bevorder – waaronder stafkaptein en majoor.
Die Ring van Sarepta se genoemde Bataljon 11 het vir etlike jare die septer geswaai onder leiding van majoor Dyna Williams en stafkaptein Konstabel. Ná Williams se uittrede is Konstabel en Marcus (albei van die Macassar-kompanjie) tot majoor bevorder.
Met die verloop van jare het Konstabel diep spore in die gemeenskap getrap en in verskeie senior hoedanighede in die gemeente en Ring van Sarepta gedien. Een van die vele hoogtepunte in sy lewe was toe hy benoem is om sy gemeente by die Algemene Sinode te verteenwoordig.
Hy dien ook tans as kerkbestuurder van sy gemeente.

Die seremonie is voorafgegaan deur die parade van honderde brigadelede van verskeie streke, wat deur dié gemeenskap se strate gemarsjeer het.



