Twee verlate geboue in Strand is die middelpunt van klagtes weens die geassosieerde risiko’s van vandalisme, diefstal en klein misdade te midde van bekommernisse dat die probleme vererger sonder enige optrede deur die eienaars van die geboue.
Een van die geboue is die verlate Burger King-gebou langs Broadway-boulevard naby die Broadway-winkelsentrum. Die gebou staan al vir meer as drie jaar vakant, maar net die struktuur bly oor aangesien alles binne gestroop is.
Die ander gebou is ’n verlate supermark, geleë op die hoek van Onverwacht-straat en Gordonsbaai-weg (R44). Die supermark is tydens die staat van inperking in 2020 gesluit. Dit staan sedertdien vakant en het stadig begin uitmekaar val.
Die groot storm van vroeg April het gelei tot ’n ineengestorte muur in die gebou en nou versleg sy toestand verder; dit word ook stadig van bakstene en bedrading gestroop.
Nabygeleë inwoners en sakelui het hul bekommernis uitgespreek oor die toestand van die gebou, wat soms snags deur rondlopers en vermeende klein misdadigers beset word.
“Dit is ’n oogseer en skep ’n veiligheidsrisiko aangesien die gebou onstabiel lyk. Bakstene val net af en nog ’n storm sal waarskynlik die gebou heeltemal platvee,” het ’n inwoner, wat verkies het om anoniem te bly, gesê.
Volgens Wayne Dyason, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se wetstoepassingsafdeling, is die beveiliging van die gebou en die voorkoming van verdere agteruitgang die verantwoordelikheid van die eienaar, wat ook aanspreeklik gehou moet word.
“Net die eienaar het die gesag om aansoek te doen om ’n sloopbevel. Hierdie gebou is nie by die Stad se probleemgebou-eenheid gelys nie. Die kwessie moet aangemeld word, terwyl misdaad by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld moet word,” het Dyason gesê.
Verskeie pogings om die eienaars van die twee eiendomme te bereik, was onsuksesvol.
Dyason het inwoners aangeraai om probleemgeboue aan te meld deur 107 van ’n landlyn of 021 480 7700 van ’n selfoon te skakel.



