Die gewilde Hope Hike, georganiseer deur die Ithemba-stigting om bewusmaking van depressie te bevorder, vind Sondag 27 Oktober by die Delvera-landgoed plaas, met deelnemers wat aangemoedig word om iets blou te dra en inskrywings wat sluit op Vrydag 25 Oktober. Hierdie foto is ter illustrasie gebruik. Foto: Pexels


Die gewilde Hope Hike vind Sondag 27 Oktober by die Delvera-landgoed in Stellenbosch plaas.

Die jaarlikse geleentheid word deur die Ithemba-stigting, ’n organisasie sonder winsbejag wat navorsing oor psigiese gesondheid ondersteun en fokus op die bewusmaking van depressie. Dit word elke jaar in Oktober, Wêreld Psigiesegesondheidsmaand aangebied, en alle geld wat ingesamel word, gaan na die stigting.

Die publiek word aangemoedig om deur Oktober, ook bekend as HOOPtober – hul hemelsblou-vir-hoop-strikkie te dra. Blou is bekend as die kleur vir optimisme, vrede, positiwiteit, rustigheid, kalmte en hoop.

Deelnemers aan die Hope Hike kan of in-persoon of virtueel deelneem. By die in persoon geleentheid by Delvera is daar drie roetes waaraan deelnemers kan deelneem: die 7 km Klapmutskop-roete (07:30); die 10 km-roete (07:35); en die 5 km-roete (07:45). Diegene wat virtueel deelneem kan enige tyd en enige plek hul eie roete voltooi.

Deelnemers word aangemoedig om iets blou te dra en selfies met hul inskrywingsnommer op die Ithemba-stigting se Facebook- en Instagram-blad te deel. Daar is fantastiese pryse op die spel vir albei geleenthede.

Die inskrywingsfooi vir alle roetes is R80 per persoon en R50 vir leerders en studente. Inskrywings sluit vir die in-persoon en virtuele geleentheid is Vrydag 25 Oktober. Besoek www.entryninja.com/events/ om in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article