’n Splinternuwe kunstefees, Helder Fest, sal plaaslike inwoners van Vrydag 23 tot Sondag 25 September op ’n wonderlike kunsreis neem.
Die fees fokus op die skeppende kunste, skryfkuns, klassieke musiek, die luisterlied en ’n paar ander verrassings. Kinderaktiwiteite, boekgesprekke en kosstalletjies word ook aangebied.
Hoogtepunte is die kaas-en-wyn-geselligheid saam met die kunstenaars Vrydagaand en Suiderkruismis, ’n komposisie van André Strjidom, wat Saterdagaand elemente van rock-, klassieke en volksmusiek kombineer. Sondag word ’n langtafelmiddagete met ’n heerlike spitbraai aangebied voordat die geleentheid afsluit met ’n orrelkonsert deur Mario Nel, Winand Grundling en Stefan Steyn.
Bevan Sylvester van Somerset-Wes hou die gehoor vir ’n uur in die geselskap van Handel, en die Canticum Novum-koor, onder leiding van Yolanda Botha, gaan die gehoor met uittreksels van die Jenkins Stabat Mater inspireer.
- Rig alle navrae per e-pos na ronell@nghelder.co.za.




