‘n Hoogtepunt van die fees is Suiderkruismis, ’n komposisie van André Strjidom, wat Saterdagaand elemente van rock-, klassieke en volksmusiek kombineer.

Supplied

’n Splinternuwe kunstefees, Helder Fest, sal plaaslike inwoners van Vrydag 23 tot Sondag 25 September op ’n wonderlike kunsreis neem.

Die fees fokus op die skeppende kunste, skryfkuns, klassieke musiek, die luisterlied en ’n paar ander verrassings. Kinderaktiwiteite, boekgesprekke en kosstalletjies word ook aangebied.

Hoogtepunte is die kaas-en-wyn-geselligheid saam met die kunstenaars Vrydagaand en Suiderkruismis, ’n komposisie van André Strjidom, wat Saterdagaand elemente van rock-, klassieke en volksmusiek kombineer. Sondag word ’n langtafelmiddagete met ’n heerlike spitbraai aangebied voordat die geleentheid afsluit met ’n orrelkonsert deur Mario Nel, Winand Grundling en Stefan Steyn.

In haar vertoning After “The End” vertel Roné Roux wat gebeur as die sprokies verby is en die helde die regte lewe moet aandurf. Strijdom, Paul Lessing en Edie Henn neem die gehoor op ’n reis deur die luisterliedere van Coenie en Lucas.

Bevan Sylvester van Somerset-Wes hou die gehoor vir ’n uur in die geselskap van Handel, en die Canticum Novum-koor, onder leiding van Yolanda Botha, gaan die gehoor met uittreksels van die Jenkins Stabat Mater inspireer.

Die fees is by die Helderberg-gemeente in Firmountweg, Somerset-Wes. Feeskaartjies, vir die naweek of individuele optredes kan aanlyn deur Quicket gekoop word.

  • Rig alle navrae per e-pos na ronell@nghelder.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article