Die koorleier José Dias en Fleur-du-Cap wenners Janelle Visagie span met ander kunstenaars kragte saam om die gehoor met Petite Messe Solennelle by die Endlersaal te betower.Foto:


Die Endlersaal van die Stellenbosch Konservatorium sal Vrydag 27 Oktober om 19:30 ’n eenmalige vertoning van Gioacchino Rossini se indrukwekkende Petite Messe Solennelle verwelkom, in sy oorspronklike en fassinerende weergawe vir koor, soliste, twee klaviere en harmonium.

Die as’t ware luukse solistekwartet sluit in gehoor-gunstelinge en Fleur-du-Cap wenners Janelle Visagie en Conroy Scott, Universiteit Stellenbosch (US) se ster-sangeres en geliefde dosent, Minette du Toit-Pearce, en die departement se eie opkomende tenoor, Nathan Lewis. Die koor word saamgestel deur US sangafdeling-studente onder leiding van José Dias, wat ook die hoof klavierdeel behartig, met Carla van der Westhuizen op tweede klavier, en Mario Nell op die manjifieke Marcussen orrel.

Rossini het sy Petite Messe Solennelle teen die einde van sy lewe geskryf, meer as 30 jaar nadat hy sy laaste opera geskryf het, en op vroeë aftrede gegaan het vir redes wat vandag nog vaag bly. In hierdie laaste lewensjare het hy wel sy sosiale aktiwiteite voortgesit, musikale soirées in sy Paryse salon gehou wat legendaries geword het, en musiek geskryf wat soms ook daarin uitgevoer was. Hierdie werke wat Rossini grappenderwys Sondes van die Grys Jare genoem het, was meestal kamermusiek, vokaal of instrumentaal, maar soms ook groter in skaal soos die Petite Messe, wat hy die laaste van sy “sondes” genoem het.

Liefhebbers van koormusiek, opera en sang sal betower word deur hierdie meesterlike, roerende werk, en hierdie is ’n uitsonderlike geleentheid om die selde-uitgevoerde oorspronklike weergawe in die Endlersaal, deur ’n wêreldklas span musikante onder leiding van Dias, te kan hoor.

“Ek het nog altyd gehoop om hierdie werk op die verhoog saam met van my beste en naaste kollegas te kan sit. Ek het ook al ’n paar produksies gedoen saam met die departement se sangstudente waarin hulle as koor gedien het, en ek vind dat die spesiale krag wat mens kry uit stemme wat as soliste opgelei word is baie spesiaal, selfs al is hulle nog jonk,” het Dias verduidelik.

“Dit pas perfek by Rossini se konsep vir hierdie werk en ek dink dat die eindresultaat absoluut verruklik sal wees. Ons het reeds begin met repetisies en hulle is ten minste net so opgewonde soos ek, indien nie meer nie! Ons het so sover baie pret!”

Kaartjies kos vanaf R50 tot R150 en kan aanlyn deur Webtickets bespreek word. Bespreek so gou moontlik om nie die rare geleentheid om hierdie unieke en indrukwekkende gewyde werk te beleef, mis te loop nie.

Vir meer inligting besoek gerus www.endler.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article