Kom kry kennis oor suikersiekte by werksessie in Somerset-Wes

Suster Dorothy Williams (direkteur van Oneiro Beroepsgesondheiddienste) en suster Claire Haupt (Sr Claire’s Essential Care Clinic) bring Saterdag 16 November hul diabetes-werksessie na die Helderberg. Foto: Barend J Williams


Twee gesondheidswerkers wat met trots in die voorste linies dien, susters Dorothy Williams en Claire Haupt, bied ter viering van Nasionale Diabetes-bewusmakingsmaand (November) en Wêreld-diabetesdag (Donderdag 14 November) later vandeesweek ’n suikersiekte-werksessie aan.

Die geleentheid vind hierdie Saterdag (16 November) by Cup O’Canvas Café Bar in die Helderberg Village Walk-winkelsentrum, Somerset-Wes, plaas.

Haupt, wat ’n suikersiektelyer is, nooi haar mede-diabete en hul gesinne om deel van die veldtog te wees.

“As diabeet doen ek soms dinge wat ek nie veronderstel is om te doen nie, en die werksessie bied die geleentheid vir ander om in samesyn te verkeer, ervarings te deel en kenners op die gebied te raadpleeg,” het Haupt gesê.

Die werksessie vind tussen 08:30 en 13:00 plaas en beloof om nuttige insae oor dié kroniese siekte en die beheer daarvan te bied.

Die organiseerders wil mense opnuut bewus maak van die noodsaaklikheid van ’n gesonder leefstyl en hoe om beter met die siekte saam te leef. Dit sluit in dieet, fisieke aktiwiteite en vel- en oogsorg.

Die werksessie sal ook gassprekers hê wat besoekers oor verskeie aspekte van die siekte sal toespreek. Onder die gassprekers wat deel van die geleentheid sal vorm, is dr. Michelle Allen, ’n huisarts en die hoof van die Helderberg-hospitaal se nooddienssentrum; die chiropodis (voetheelkundige) Almarie Fourie, wat meer insig sal lewer oor hoe suikersiekte beendere insluitend dié in die voet en enkel kan raak; en Marieke Giliomee van Somerset Dietitians.

Die koste om die werksessie by te woon is R350.

“As jy weet van ’n diabeet wat dit nie kan bekostig nie, vra ons jy moet hulle borg om die sessie by te woon, want elke diabeet het die inligting nodig,” het Williams aangespoor.

Die verpleegsusters het die kragte van albei hul Strand-klinieke bymekaargesit om die werksessie moontlik te maak. Williams is die direkteur van Oneiro Beroepsgesondheiddienste en Haupt is die direkteur van Sr Claire’s Essential Care Clinic.

Die werksessie word ook beskou as nog ’n manier hoe die verpleegsters die Helderberg met hul kennis kan dien.

Die span wat die Diabetes Werkwinkel organiseer. (Van links na regs): Jason Opperman, JoDean Williams, Suster Dorothy Williams, Suster Claire Haupt, Jacky Nibaruta, Cindy Samuels, Anthony Da Silva en Phomolo Sihloyi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article