Athol Ontong, een van die organiseerders van die kospakkie inisiatief.


Sportlui in Stellenbosch en die Helderbergkom word uitgenooi na ’n bring-en-braai in Gordonsbaai op Saterdag 14 Desember, om behoeftige sportlui met ’n kospakkie te voorsien vir die Kersseisoen.

Die bring-en-braai word aan huis van die nuutverkose voorsitter van die Strand-rugbyklub, Roger Daniels, gehou.

“Net nadat die staat van inperking in die Covid-pandemie in 2022 gelig is, het ’n groep rugbyspelers in Paarl wat ’n WhatsApp-groep in die tyd begin het, met die inisiatief vorendag gekom,” sê Athol Ontong, ’n onderwyser aan die Hoërskool Paulus Joubert in Paarl.

“Omdat jy nie destyds besoek kon aflê nie, is inligting oor elkeen se welstand en wie hulp nodig het, op die groep gedeel. Soos ons almal weet, het baie mense hul werke verloor en het almal swaar getrek om kop bo water te hou.

“Omdat ek self ’n rugbyspeler was en ek in Paarl spesifiek gesien het hoe swaar oud-spelers kry, het wyle Abe Fredericks van Elsiesrivier met die voorstel gekom om die bring-en-braai te hou en jou toegangsgeld om dit by te woon, was enige blikkie kos of pakkie pasta of rys. Jy het dan jou eie braaigoed gebring, maar al die blikkieskos en ander skenkings is dan as kospakkies opgemaak en verteenwoordigers van klubs wat teenwoordig is, kon dan ’n kospakkie of twee saam huis toe neem om aan die spelers wat hulle vooraf geïdentifiseer het, te oorhandig,”

Volgens Ontong het die meeste oud-rugbyspelers in hul speeldae geen mediese dekking of pensioen ontvang nie en vandag haal die ou beserings hulle in en is die meeste afhanklik van ’n staatstoelae.

“Destyds was die meeste rugbyspelers ambagsmanne, vissermanne, onderwysers, polisiemanne of bewaarders en na ’n dag se werk, het hulle gaan oefen of gaan speel. Nie soos vandag waar jy ’n loopbaan uit rugby kan maak nie, want rugby is gespeel vir die liefde van die spel. Min het gedink aan die dag van môre en die kospakkie wat ons wil oorhandig, is maar ’n druppel aan die emmer. Die rede waarom jy met ’n blikkie of pakkie moet betaal, is omdat nie almal dit kan bekostig om hekgeld te betaal nie, maar daar is altyd iets in jou koskas wat jy kan skenk.

“Soos in die eerste bring-en-braai, word al die blikkies en pakkies bymekaar gesit en dan in kospakkies opgemaak. By die laaste een was Randy Marinus ook daar en daar was baie jong spelers wat die braaiery hanteer het, en ook kon skouers skuur met spelers oor wie hulle net in koerante gelees het. Ons het ongeveer 40 pakkies opgemaak en uitgedeel en dit gaan beslis weer op dieselfde wyse gedoen word. Elkeen moet net sy eie braaigoed, roosters, ensovoorts saambring. Ons gaan lekker kuier, ou rugbystories deel, alles om ’n spanmaat of twee te help,” sê hy.

Richard Croy, een van die organiseerders van die bring-en-braai, sê jou affiliasie in die apartheidsjare by ’n rugbyunie het niks met die insameling van kospakkies te doen nie.

“Die bring-en-braai is oop vir alle sportlui, of jy nou krieket, bofbal of tennis gespeel het, maar omdat dit ’n inisiatief was van rugbyspelers in Paarl, moet ons erkenning gee vir hul inisiatief,” sê Croy.

“Almal is welkom om ook ander sportlui in die metropool van die inisiatief te vertel en hulle uit te nooi. As jy weet van iemand by jou fietsryklub of tennisklub wat ook sukkel of jy voel jou skenking kan ’n verskil in iemand se lewe maak, kom tot daar en bring die naam of name en ons sal jou ook ’n kospakkie gee.

“Dis maar iets klein om iemand anders se lewe makliker te maak. Ons almal weet watter opofferings ons in ons speeldae moes maak en as ons nou almal bymekaarkom om iets terug te gee aan ‘n mede-sportman wat tans swaarkry, hoekom dan nie.”

Om ook geld in te samel, word ’n langarmdansparty Vrydag 22 November in die saal by die Charles Morkel-stadion in Strand gehou. Kaartjies kos R150 per persoon en jy moet jou eie eet- en drinkgoed saambring. Rig alle navrae aan Shaun Langley by 082 712 0820.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article