’n Steekvoorval het by Rusthof Sekondêr plaasgevind kort nadat ’n vergadering oor veiligheid by die skool gehou is.Foto: Ter illustrasie


’n Leerder van Strand is onlangs op ’n skoolperseel met ’n skêr gesteek – net ’n paar weke nadat ’n veiligheidsvergadering by die einste skool gehou is.

Die leerder het verlede Woensdag (15 Februarie) vermoedelik ’n bakleiery tussen twee ander leerders by Rusthof Sekondêre Skool probeer opbreek toe hy met ’n skêr gesteek is.

Die voorval was presies 23 dae nadat die Strand-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) ’n vergadering by die skool gehou het om toenemende misdaad by dié hoërskool te bespreek (“GPF sê oor plan teen misdaad”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 Februarie). Lede van die Strand-GPF het saam met lede van die skool se bestuur en beheerliggaam en Francina Lukas, voorsitter van die GPF se provinsiale raad, om ’n tafel gesit om veiligheidskwessies te bespreek en moontlike oplossings te vind.

Kol. Khunjulwa Khanyile, die Strand-polisiekantoor se stasiebevelvoerder, het ook die vergadering bygewoon om ondersoek in te stel oor hoe die polisie ’n bydrae kan lewer om veiligheid by die skool te bevorder en misdrywe te takel. Van die polisie se oplossings het gereelde patrollies by die skool ingesluit.

Unathi Booi, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het die steekvoorval by die skool bevestig.

“Getuies beweer ’n leerder het ’n bakleiery tussen twee ander leerders probeer opbreek toe hy met ’n skêr gesteek is. ’n Ambulans is ontbied en die leerder is hospitaal toe geneem,” het Booi gesê.

Ná afloop van die voorval is nog ’n vergadering by die skool gehou, waar besluit is die GPF, die Strand-polisie, wetstoepassers asook ’n K9-eenheid van die Stad Kaapstad tesame met ouers en gemeenskapslede sal verseker dat die skool in die toekoms veiliger vir leerders sal wees.

Op die vergadering is besluit onderwysers sal tydens pouses en klaswisselings tussen periodes moet verseker die orde word gehandhaaf. Wetstoepassers, private veiligheidsbeamptes asook verteenwoordigers van buurtwagte in die omgewing sal soggens voor die begin van die skooldag sigbaar wees. Hulle sal ook gedurende pouses en wanneer die skool in die middae sluit, oral sigbaar wees.

Die skoolbeheerliggaam is op die vergadering aangeraai om ’n meer aktiewe rol te vervul wanneer dit by die veiligheid van leerders kom.

Die skool gaan ’n punte-toekenningstelsel bekendstel, wat gebruik sal word om leerders se gedrag te verbeter.

Op die vergadering is ook bevestig leerders se tasse sal soggens voor skool deurgesoek word om te verseker geen wapens word op die skoolterrein gebring nie.

Booi het bevestig die leerder wat gesteek is, is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.

“Die skool ondersoek nog die voorval en tugstappe sal gedoen word.

“Distriksamptenare is in gesprek met die skoolbestuur met betrekking tot veiligheidsmaatreëls.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article