’n Joernalis, omroeper, entrepreneur en iemand wat elke dag daarna streef om die beste weergawe van homself te wees, het ’n dapper tree geneem en saam met ander skrywers ’n boek geskryf wat die kollig op geweld teen vroue plaas.
Jody Hendricks, ’n 41-jarige boorling van Strand wat weekliks op RSG te hoor is waar hy oor sport praat, het in 2013 Johannesburg toe verhuis, maar van Desember af is hy terug op plaaslike bodem waar hy woeker om soveel oë moontlik te kry op ’n nuwe boek waaraan hy gewerk het, genaamd Geweld teen vroue.
Hendricks was deel van ’n groep samestellers, onder wie Bernard Lategan, Willemien Brummer, Kopano Ratele en Chris Jones. Elkeen van die skrywers het iets uit hul eie stories vertel wanneer dit by geslagsgebaseerde geweld teen vroue kom en hulle het gaan gesels met oortreders wat die dade gepleeg het asook die slagoffers.
“Professor Chris Jones het my in Augustus verlede jaar genader om aan die boek te help skryf. Ek is egter eers ’n maand later oortuig en het toe eers aan die boek begin werk,” sê hy.
Die invalshoek van die boek is dat mans die grootste oortreders is wanneer dit by dié soort misdaad kom.
“Ek het gehelp met die boek se strategie en het genoem ons kan nie oor GBV skryf as ons nie ook vrouestemme in die boek het nie. Dit is waarom ons ook vroue gekry het om oor die onderwerp te skryf.”
Sy hoofstuk het gehandel oor sy ervaring met geslagsgebaseerde geweld, en al het hy nie in so ’n huis grootgeword nie, het hy gesien hoe dit die gemeenskap waarin hy gewoon het, geraak het.
“Ek kan sê ek het nie in so ’n huis grootgeword nie, maar dis deesdae die uitsondering en nie die reël nie – juis omdat dit in so baie mense se huise gebeur. Ek het destyds gesien hoe kom mense na my ma en ouma en kom praat oor wat met hulle gebeur het, maar destyds is gesê ‘dis nie jou besigheid nie en ons praat nie daaroor nie’. Jy het in sulke gevalle nie betrokke geraak nie.”
As joernalis het hy meer en meer met dié soort gevalle te doen gekry en hy beskryf hierdie misdade as ’n pandemie – juis omdat dit so gereeld en op so baie plekke gebeur.
“Daar is baie ‘enablers’ wat toelaat dat mans vroue so slaan. Partykeer steek die vrou weg wat met haar gebeur, maar partykeer is dit ook die familie en vriende wat dié soort goeters wegsteek. Ek was al self jare terug ook ’n ‘enabler’ wat lank niks aan sulke gevalle gedoen het nie. Ek het op die kantlyn gesit,” brei hy uit.
Deesdae het opskrifte soos ‘Man vermoor vrou’ amper die norm geword, en dit het Hendricks laat besef “iets groots is fout in ons samelewing” wanneer dit by geweld teen vroue kom.
“Ek het met sielkundiges gaan praat en uitgevind baie mans kan nie rejection hanteer nie, en dis wanneer mans met geen misdaadrekord teen hulle nie, skielik snap en sulke haglike goeters aan vroue doen. Ek het my platforms gebruik om hieroor te praat, en dis waar professor Jones my passie oor die saak raakgesien het.”
Hy het met slagoffers, die oortreders asook met sielkundiges gepraat en gou agter die kap van die byl gekom dat daar geen gevolge vir die mans wat dié soort dade pleeg, is nie.
“Ek was al by ’n geval betrokke waar ’n man ’n vrou geslaan het en ek wou die man aanspreek oor wat hy gedoen het, maar die slagoffer het vertel sy is eintlik die een wat verkeerd was en ek moet nie met die man daaroor praat nie.”
Hendricks, wat deesdae ook te sien is in die tweede reeks van Slimkoppe, ’n vasvraprogram van Netwerk24 en VIA, wil juis oral op al sy platforms probeer om mense te laat besef wat aangaan met geweld teen vroue en hoe ’n mens dit kan laat stop.
“Ek dink dit gaan ’n kollektiewe effort verg om hierdie misdade te laat ophou. Hopelik kan Geweld teen vroue, wat in die meeste goeie boekwinkels beskikbaar is, mense bewus maak hiervan,” sluit hy af. . Geweld teen vroue is aanlyn beskikbaar by Naledi Uitgewers deur hierdie skakel: https://naledi.co.za/product/geweld-teen-vroue/




