Twee aparte skietvoorvalle het die afgelope naweek in Broadlandspark voorgekom, maar net een is by die polisie aangemeld.

In die geval wat wel by die polisie aangemeld is, is ’n poging-tot-moord-saak geopen nadat tien skote op ’n insittende in ’n voertuig op die hoek van Petunia-rylaan en Fisant-straat afgevuur is.

AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand se polisie, het bevestig die slagoffer en sy vriend, wat albei in ’n Volkswagen Polo was, is ongedeerd ná die voorval Saterdag 5 Augustus omstreeks 21:40.

Volgens Beukes het die slagoffer ’n verdagte, wat bekend is aan hom, in sy motor se truspieëltjie gesien voordat skote op sy voertuig afgevuur is.

Hierna het die slagoffer uitgeklim en vier skote op die verdagte asook twee ander verdagtes, wat saam hom op die toneel was, afgevuur.

Die Strand-polisie het bevestig die slagoffer se vuurwapen is wel ’n gelisensieerde vuurwapen.

Die slagoffer is later dieselfde aand weer deur die drie verdagtes besoek dié keer by sy huis in Petunia-rylaan. “Die verdagtes het skote in die rigting van die slagoffer se huis afgevuur,” het Beukes bygevoeg.

Gelukkig is die slagoffer nie beseer nie en geen skade is aan sy huis aangerig nie.

In ’n aparte en onverwante skietvoorval, wat ook die afgelope Saterdag plaasgevind het, is ’n man, wat vermoedelik ’n lid van ’n bendegroep is, ook in Broadlandspark geskiet, maar die polisie het bevestig dié geval is nie by hulle aangemeld nie.

Verdere inligting oor die voorval is skaars, maar Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van Strand se Gemeenskaps­polisiëringsforum (GPF), sê al het hy nie kennis oor die voorval nie, sou hy sê dit was ’n geveg tussen bendelede.

“Die bendes open nie sake teen mekaar nie – juis uit vrees vir vergelding,” sê Thysen.

Apostel Manfred Jumat, voorsitter van Broadlandspark se buurtwag, het sy kommer ná “verskeie” skietvoorvalle die afgelope ruk in die gebied uitgespreek. “Dit beteken daar is meer vuurwapens op die strate, en dis nie ’n goeie ding nie. Oor die onlangse skietvoorval kan ek nie veel uitbrei nie; ek moet self eers my eie huiswerk gaan doen,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article