Die 40-jarige inwoner van Strand glo ’n mens moet nooit toelaat dat iets jou keer om jou drome te bereik nie.

Credit: SYSTEM

’n Strand-inwoner kloof nie net ’n pad in die entrepreneurswêreld oop nie, maar blink ook uit in rymklets, gedigte en fotografie.

Elzana October, wat in Strand gebore is en aan Strand Sekondêr gematrikuleer het, staan bekend as die “Moeder van die Sand” en is ’n digter wat deur middel van gedigte in rymkletsformaat praat oor bendes en armoede, en watter invloed dit op ’n mens se lewe het.

“My pa was deel van die San en dis ook deel van wie ek is. Dis juis waarom ek gereeld optree en gedigte oor wie ons is, voorlees om mense te laat besef hoe waardevol hulle werklik is,” sê die 40-jarige.

Elzana glo ook om so naby aan die natuur te leef as wat dit vir haar moontlik is, en dis waarom sy ook gereeld kinders op natuurtoere neem om hulle te leer hoe om hul eie plante te kweek. “Ek wys hulle byvoorbeeld hoe lyk spekbome en verduidelik dat spekbome se blare ’n mens in die natuur kan help as jy besig is om te ontwater.”

Die onderrig val in by “Moeder van die Sand” en die boodskappe wat sy daarin oordra.

As sy nie skryf of rymklets nie, neem sy foto’s en het op hierdie gebied al goed naam gemaak omdat sy alles van troues tot matriekafskeidsgesellighede en enige kleinsakeonderneming se produkte afneem, en as iemand uit die gemeenskap ’n fotograaf benodig, spring sy dadelik in. “Ek hou met my fotografie gereelde ‘boot camps’ waar ek jong fotograwe leer hoe om ’n bietjie ‘buite die boks’ te dink.”

Iemand het Elzana gedurende die streng Covid-19-inperkings genader en gevra of sy belang sal stel om sjampoe te verkoop en te bemark. Sy het ingestem, maar wou haar eie formule maak, wat kan help met haarverlies. Dit is hoe sy toe met haar produk Inhairitance-sjampoe vorendag gekom het.

“Kort hierna het die woord begin versprei en mense het my van heinde en ver vir die sjampoe gekontak. Dit is nou baie suksesvol en ek bou daarop voort. Die naam beteken vir my baie, want ek het self so baie van wie ek is van my voorgeslagte geërf,” vertel sy.

Sy maak ook nie net sjampoe nie, maar ook ’n gesonde seep met laventel in.

“My wenk aan jongmense is om so veel as moontlik te skryf. Skryf alles neer. En lees en doen navorsing oor jou droomwerk en wat jy alles gaan moet doen om dit te behaal.”

Haar drome stop nie egter hier nie. Sy beplan om volgende jaar as trigoloog te gaan studeer. Dit is eintlik ’n groot woord vir ’n dokter wat in die studie van siektes of probleme wat met die hare en kopvel verband hou, asook die behandeling van al dié siektes, spesialiseer.

Elzana October wys ’n jongeling hoe om foto’s te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article