Die eerste spanne van twee plaaslike rugbyklubs het hul staal in twee afsonderlike Superliga A-kragmetings, wat puik spel opgelewer het, gewys.
St. George’s RFC het die Gustrouw-sportveld Saterdag (6 Julie) betree en Durbell die stryd aangesê. Wat gevolg het, was ’n rugbywedstryd wat albei aanspraakmakers op hul tone gehou het, en enige van die spanne kon gewen het.
Ten spyte van ’n moedige poging het die Lulu Boys uiteindelik die intense wedstryd met ’n naelskraapse telling van 17-19 teen die Durbell-besoekers verloor.
Teen halftyd het die telling op 14-14 gestaan. Durbell het twee keer oor die doellyn gebreek, terwyl St. George’s een drie gedruk het.
Jody Dramat het sterk gehardloop om ’n 45-m-drie vir die tuisspan te druk. Kyle Alexander se ywerige skopskoen het die Lulu Boys in die wedstryd gehou danksy drie suksesvolle strafdoele.
In die tweede helfte het Durbell nog ’n drie gedruk, wat hom die voorsprong gegee het.
Alexander het egter nog ’n strafskop vir St. George’s aangeteken, wat die telling weer nader aan mekaar gebring het.
Die wedstryd was tot heel aan die einde op ’n mespunt gebalanseer. Met net ’n paar minute oor het die Lulu Boys ’n strafskop gekry wat kon help om die wedstryd te wen. Ongelukkig was die skop te moeilik en het hulle nie daarin geslaag om te verdoel nie.
Die groot uitblinker vir die plaaslike span was Sipho Hobosch, wat met sy uitstaande spel en onverskrokkenheid uitgeblink het. Hy was gewis ’n sterspeler wat deur albei spanne en toeskouers raakgesien is.
Ten spyte van St. George’s se prysenswaardig poging, het Durbell in ’n opwindende kragmeting as oorwinnaars geseëvier.
Die wedstryd sal nog lank in die geheue van die ondersteuners bly, en die Lulu Boys het gewys dat hulle met die beste kan meeding.
Die Helderberg-rugbyklub het op Charles Morkel in hul Superliga A-wedstryd teen Kuilsrivier puik vertoon en die eerste span het sy sesde sege ingeryg, met ’n 47-24 telling en sewe drieë.
Die besoekers was vroeg voor met ’n verdoelde drie, maar dit was bloot ’n tydelike terugslag (0-7). In die 18de minuut het die heelagter, Stewart Jacobs, van sy eie 22 af dwarsdeur genael vir ’n drie onder die pale, verdoel deur sy skrumskakel, Michael Visser.
Hierna het drieë gevolg deur albei vleuels – Jodi Koul en Lynn-Jay Hendricks – telkens deur Visser verdoel. ’n Strafdoel deur Kuilsrivier maak die rustydtelling 21-10.
Kuilsrivier het teruggeveg met ’n stut-drie en verdoel (21-17) voordat Berge se plaasvervangerflank Blaine Skelton twee skitterende drieë gaan druk het, waarvan Visser een verdoel het.
Nog ’n drie deur Kuilsrivier se vaskopstut maak die telling 33-24. Berge se plaasvervanger losskakel Errol Jaggers kombineer met senter Quinn Visser en Visser druk, vir Jacobs om te verdoel (40-24). En laastens snel die kaptein en agtsteman Conway Pretorious deur in die hoek, vir ’n puik drie, weer van die kantlyn af, verdoel deur Jacobs (47-24).
V Ander uitslae:
. Superliga B: Kraaifontein 54-22 All Saints, Vineyards 31-14 Strand.
. Superliga C: Macassar 17-21 Primrose, Strand United 28-0 Paarl.
V Naweekwedstryde:
. Superliga A: St Georges t. Brackenfell (Brackenfell), Helderberg t. NTK (Charles Morkel).
. Superliga B: All Saints t. Van der Stel (Helderzicht), Strand RFC t. Collegians (Gustrouw).
V Die berig is saamgestel deur afsonderlike verslae van Rubin Burger en Neels du Toit.



