Riyaad Adams van die GetMetal St. George’s-rugbyklub doen sy bes om sy span in hul Superliga A-kragmeting teen die Valsbaai-rugbyklub oor die voordeellyn te kry. Die Lulu Boys het die wedstryd Saterdag (27 Julie) in moeilike, modderige en nat toestande by die Gustrouw-sportterrein met 8-5 beklink. Valsbaai, wat as die gunsteling beskou is om te wen, het gesukkel om die oorhand te kry – veral voorlangs. Kyle Alexander was weer eens die Lulu Boys se held en het al die punte vir sy span aangeteken. Sy uitmuntende vertoning het die verskil in ’n taai stryd gemaak. GetMetal St. George’s se voorspelers was eenvoudig te goed vir Valsbaai en verdien spesiale vermelding. Nathan Arnolds, in besonder, het uitgestaan deur Valsbaai se skrum geheel en al te oorheers en hulle behoorlik gekarnuffel. Die wedstryd was ’n intense en fel stryd, maar die Lulu Boys het koning gekraai. Hierdie oorwinning bewys weer eens die krag en vaardigheid van GetMetal St. George’s se span, wat hul teenstanders met deursettingsvermoë en taktiese vernuf oorwin het. Foto: Rashied Isaacs


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article