Die Helderberg-rugbyklub en die Durbell-rugbyklub se Superliga A-kragmeting Saterdag (22 April) op Charles Morkel was ’n stryd van uitstaande gehalte. Die uitslag was deurgaans in die weegskaal en die voorloper op die telbord het ses keer gewissel voordat die besoekers uiteindelik 29-31 geseëvier het.
Berge was ná slegs twee minute voor ná ’n strafdoel deur die skrumskakel, Michael Visser (3-0).
Durbell se skrummie, Deon Thiart, het in die 14de minuut gaan druk en sy heelagter, Raymond Olivier, het verdoel (3–7).
Die twee spanne het mekaar vir die res van die eerste helfte verwoed aangeval en ewe verwoed verdedig. Michael Visser het in die doodsnikke ’n tikskoppie weggestuur en sy losskakel, Darren Hendricks, het sy regtervleuel, Jodi Koul, in die Castle-hoek oorgestuur. Visser se doelskop van die kantlyn was suiwer en die rustydtelling was 10–7 vir Berge.
Ná die tweede begin was Durbell feitlik onmiddellik in beheer toe sy slot RP de Beer twee keer die doellyn oorgesteek het. Een doelskop het die telbord na 10–19 laat aanskuif.
In die 51ste minuut het Berge se puik slot Shane Kennedy ná puik voorspeler-dryfwerk ’n drie gedruk, wat Michael Visser netjies verdoel het (17-19).
Vier minute later het Durbell se haker, Rennie Brink, in die hoekie oor die doellyn geskuif en die doelskop was suksesvol (17–26).
Visser is in die 56ste minuut oor die lyn en het self die ekstras bygevoeg om die telling 24-26 te maak.
Berge was in beheer en sy skitterende heelagter, Jeandre Lukas, het deurgenael om sy span te laat voorloop. Die doelskop teen die sterk wind het nie geslaag nie, maar Berge het 29-26 voorgeloop.
Die spanning was hoog en Durbell het tot die aanval oorgegaan.
Die tuisspan se plaasvervangersenter, Bookie Carstens, het naby sy doellyn onderskep en op loop gegaan. Hy het egter besit buite sy 22 verloor en Durbell het die wendrie net voor die eindfluitjie gedruk (29–31).
Almal is dit eens dat hierdie een van die heel beste klubrugbywedstryde nog was.
Talle uitstaande vertonings is aan albei kante gelewer. Aan Helderberg se kant – die skrumskakel Michael Visser, die losskakel Hendricks, die heelagter Lukas, die hele begin-voorry van Roux Nieuwoudt, haker Jacques van Zyl en Tristan Leitch en die res van die span.
Eerskomende Saterdag geniet die klub ’n loslootjie voordat hulle Villager FC Saterdag 6 Mei op Charles Morkel ontvang.



