Helderberg het die naweek tot ‘n gemaklike oorwinning oor Unimil gespeel.Photo: Helderberg Rugby Klub – Offisiële blad


Helderberg-rugbyklub was Saterdag (9 Maart) die gasheer vir Unimil-rugbyklub in vier vriendskaplike wedstryde op die Charles Morkel-veld.

Unimil se senter het reeds in die sewende minuut ’n goeie drie gedruk, wat verdoel is vir ’n 0-7-voorsprong.

Dit was egter sy enigste punte en Berge het hierna geleidelik oorheers en ná ’n rustydtelling van 21-7 uiteindelik 38-7 gewen.

In die 30ste minuut het Berge se kaptein en slot, Conway Pretorius, sy span se rekening ná ’n indrukwekkende dryfbeweging geopen. Die losskakel, Darren Hendricks, het verdoel (7-7).

Die stut Jurgen Dorfling is in die 35ste minuut ná ’n lynstaan in die hoek oor. Hendricks het van teen die kantlyn af die twee punte bygevoeg.

Net voor die rustydfluitjie is Unimil met ’n strafdrie gestraf en die telling het aangeskuif na 21-7 in Berge se guns.

Ná die hervatting het die tuisspan se ander stut, Dehan Kruger, sy span se vierde drie ná puik aanvallende spel deur sy heelagter, Jeander Lukas, gedruk (26-7).

Opwindende spel tussen Danvino Swartland en Jodi Koul het tot die drie van die plaasvervanger-senter Quinn Visser gelei en die plaasvervanger-losskakel Stewart Jacobs het verdoel (33-7).

In die doodsnikke van die wedstryd het die nuwelingflank Kurt Titus Berge se sesde drie gedruk (eindtelling 38-7).

Aangesien 27 spelers in die wedstryd gebruik is, was kontinuïteit moeilik, maar uitblinkers was daar wel.

Ander uitslae:

Helderberg II 25-19 Unimil II; Helderberg III 24-7 Unimil III; Helderberg o.20 A 17-12 Unimil o.20A. Helderberg reis Saterdag na Constantia vir sy jaarlikse vriendskaplike kragmeting teen Valsbaai- rugbyklub.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article