Die Helderberg-rugbyklub het Saterdag 29 Maart sy laaste vriendskaplike wedstryd op die Charles Morkel-stadion in Strand oortuigend gewen.
Die amptelike ligabepalings begin eerskomende Saterdag (5 April) en die klub se eerste wedstryde vind op Jagters-hof teen Kuilsrivier plaas.
Unimil was eerste op die telbord met ‘n onverdoelde drie in die 13de minuut van die afgelope Saterdag se kragmeting (0-5). Vyf minute later, ná goeie voorspelerdryfspel, het Berge se agtsteman, Erhard Lambrecht, die gelykmaker in die hoekie gedruk (5-5).
Die plaaslike span se skrumskakel, Junior Fortuin, het in die 22ste minuut ná ‘n sterk lopie van die linkervleuel, Jayden Daniels, oorgeduik (10-5).
Agt minute later was dit die regter-vleuel, Charles Klaasen, se beurt vir ‘n puik drie. Fortuin se doelskop het die telling tot 17-5 gerek.
Unimil het met ‘n verdoelde drie vir ‘n 17-12-rustydtelling hierop reageer, maar gou ná die omdraai het Fortuin vir sy tweede drie deurgehardloop, wat deur die plaasvervanger-losskakel Brendan Venter verdoel is (24-12).
In die 52ste minuut het Unimil sy derde drie gedruk(24-17). Hierna was daar net een span op die veld en dit was gewis Helderberg, wat die momemtum oorgeneem het. Eers het die tuisspan se haker, Mauritz Swart, in die hoekie gedruk (29-17).
Ná nog voorspeler- oorheersing het Venter gedruk en self met die doelskop geslaag (36-17) en laastens het die plaasvervanger-agtsteman, Pieter Kemp, ook in die Castle Corner oorgedruk vir die eindtelling van 41-17.
Vir Helderberg het die kaptein van die dag, Lynn-Jay Hendricks, die oog gevang, tesame met ondernemende spel van sy heelagter, Jeandre Lukas; sy skrumskakel, Junior Fortuin en die vaskopstut, Roux Nieuwoudt.
Ander tellings
• Helderberg II t. Unmil II: 55-34
• Helderberg III t. Unimil III: 10-19
• Helderberg IV t. Unimil IV: 41-5
• Helderberg onder-20A t. Unimil onder-20A: 19-7






