’n Motordief het tydens ’n jaagtog sy Moses só erg teëgekom dat hy met ’n gesteelde voertuig waarin hy van die lang arm van die gereg probeer ontsnap het, in ’n lamppaal vasgejaag het.
Lede van die Strand-buurtwag en twee plaaslike veiligheidsmaatskappye was op sy spoor.
Volgens Philip Versfeld van die Strand-buurtwag het hulle verlede Maandagaand (24 April) inligting ontvang oor ’n gesteelde voertuig wat omstreeks 21:00 in Somerset-Wes se sentrale sakegebied geparkeer was.
“Ongemerkte voertuie is dadelik na die area gestuur om die ligging van die voertuig vas te stel. Ons wou ook sien of daar enige insittendes in die voertuig is. Die leë voertuig is in ’n systraat opgespoor. Die ongemerkte voertuie is op strategiese plekke geparkeer om te sien wanneer die motordief sy verskyning sou maak,” sê Versfeld.
Intussen is Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) en Secure Rite Security oor die situasie ingelig en gevra om in te beweeg, maar steeds toe te sien dat hulle nie vir die verdagte sigbaar is nie. Terwyl dit alles afgespeel het, het die Khayelitsha-polisie se blitspatrollie-eenheid ook van die motordief te hore gekom en hulle ook na die gebied gehaas.
Die beamptes en polisie, wat almal soos ’n wafferse laeveld-leeu op sy prooi gewag het, se ore het gespits en hul oë het geglinster toe hulle die verdagte sien verskyn, in die gesteelde voertuig klim en verby die Mediclinic Vergelegen in die rigting van Strand en die N2 ry.
“Al die veiligheidsbeamptes en die polisie se blitspatrollie-lede is op hoogte gehou van waar die voertuig trek sodat dit veilig voorgekeer sou kon word.”
Maar toe breek alle hel los toe die motordief ’n gemerkte voertuig sien wat hom agtervolg, voet in die hoek sit en in die rigting van Gordonsbaai jaag.
Die verdagte is amper by die Altena-kruising in Broadway Boulevard vasgekeer, maar hy het die lang arm van die gereg vrygespring.
Die veiligheidsbeamptes, buurtwaglede en die polisie se blitspatrollie het op die motordief se hakke gebly en sy geluk het in Saxenburgstraat, in ’n gebied wat in Strand as Die Bos bekend staan, opgedroog toe hy ’n lamppaal getref het, wat die gesteelde motor tot stilstand geruk het. “Gelukkig was die straat baie stil en niemand is in die voorval beseer nie,” bevestig Versfeld.
Die polisie se blitspatrollie was op die toneel kort nadat die gesteelde maroen Renault Sandero die lamppaal getref het. Die verdagte is aangekeer en die gesteelde voertuig is aan die Strand-polisie vir prosessering oorhandig.
Die verdagte, ’n 47-jarige man, het in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Versfeld het elke rolspeler vir hul hulp en insae bedank.



